‘n Vrou staan langs die hospitaalbed van haar tweejarige en worstel –
“Die Here sien nie raak wat van my word nie.”
‘n Man wat sy werk verloor het, stap weerloos uit die gebou, huistoe, vrou en kinders toe –
“Die Here sien nie raak wat van my word nie.”
‘n Senior wat al dekades aan ‘n bed gekluister is worstel –
“Die Here sien nie raak wat van my word nie.”

En dan sien ons in Jesaja 40:27 en 31:
“Waarom kla jy: “Die Here sien nie raak wat van my word nie?”
Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag!”

Mens worstel:
Sal dit ooit weer goed gaan?
Gee God om?
Hoor Hy my gebede?
Sal Hy sorg en voorsien?
Is Hy naby?
Sal hy ingryp?

God sê vir elkeen wat meegesleur word deur omstandighede:
Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag!
Nie oorskiet krag nie.
Nie teelepeltjies vol krag nie.
Maar nuwe, onbeperkte, verstommende krag van God!

Vertrou is oorgee.
Die hele saak is so erg, dat jyself totaal niks daaraan kan doen nie.
Vertrou is opkyk, en aanhou praat met God.
Vertrou is om hierdie woord van Jesaja te glo, as vir jou persoonlik, van God af!
Dit is om die Onse Vader te bid as jy nie meer weet wat om te bid nie.
Om net stil te wees in God se hand.
Om regtig eie oplossings te laat vaar, en God onvoorwaardelik te vertrou.
Om net jou oog gevestig te hou op die Here.

Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag!

Ernest