1 Petrus 5:7: “Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer
of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir
julle sorg.”

Let op, hierdie teks sê nie dat ons net sekere probleme na God
toe kan neem nie. Dit sê nie dat sekere probleme te groot is, of
ander te klein nie. Daar is geen kwalifikasies ten opsigte van watter
probleme van toepassing is nie. Dit is eenvoudig letterlik alle probleme!
Maak ook nie saak hoe skaam jy daaroor is nie, of hoeveel keer jy al gefaal
het in die oplossing daarvan nie. Bring alles. God self is die Een wat jou sal
help en vir jou sal sorg.

‘n Ander belangrike aspek hierin is dat ons nie weer die probleme by God
moet gaan haal nadat ons dit vir Hom gegee het nie. Baie keer gee ons die
probleem vir God en netnou skrik ek in die nag wakker en bekommer my
opnuut daaroor asof ek nooit by God was daarmee nie. Probeer regtig hard
om nie weer die probleem by God te gaan haal nie.
Dit is ‘n “mosie van wantroue” in Hom! Vertrou Hom volledig met jou probleme.
Sorg ook dat jy tyd saam met God deurbring oor die probleem. Hy wil jou leer
en lei om nie weer die verkeerde pad te kies nie. Glo dat God sy beloftes sal
waarmaak en dat daar uitkoms is, al is dit dalk nie soos jy dit verwag het nie.

Ernest