Dikwels gebeur met ons verskriklike dinge wat ons baie hartseer
maak en ons laat wonder of dit regtig “die Here se plan” was.
Nou lees ons in 1 Petrus 5:10-11: “Hierdie swaarkry as Christene sal
nie meer so lank aanhou nie. Daarvoor sal God sorg. Dit is immers Hy
wat soveel goeie geskenke vir ons gee sonder dat ons dit verdien.
Hy het Christus Jesus gestuur, deur wie God ons ook uitnooi om vir
altyd sy eregaste te wees. Al ly julle nou ‘n rukkie, sal God self vir julle
julle ereplek by Hom gee. Hy sal vir julle al die krag gee wat julle nodig
het, sodat niks en niemand dan meer iets aan julle sal kan doen nie.
Hy kan dit doen, want al die krag behoort aan Hom, nou en vir altyd.
Daaraan hoef niemand eens te twyfel nie.”
Natuurlik gee dit nie vir ons antwoorde op die “waarom” vrae nie.
Maar God is ook geen antwoorde aan ons verskuldig nie. Hy is God!
Hierdie Skrifgedeelte gee eerder vir ons ‘n blik op wat God van nou
af gaan doen. Die mense vir wie Petrus hier skryf het ontsettend swaar
gekry. Hulle word doodgemaak vir hulle geloof in Jesus Christus, en dit
sou ook binnekort met Petrus self gebeur! Seer en swaar is konkreet
deel van die mense se lewe aan wie Petrus hier skryf. Vandag is dit ook
nie anders nie. Baie mense kry baie swaar as gevolg van baie verskillende
redes.
Ons moet egter weet ons staan nie alleen nie. Dit is nie asof God se plan
nou skeefgeloop het en Hy nou eers eenkant toe staan nie. Nee. God is
steeds by ons in sy volle teenwoordigheid. Hy is nie te besig nie. Hy gee
volledig om. Hy gee die krag in oorgawe. Hy gee beloftes wat Hy sal vervul.
Ons het nie op aarde al die antwoorde nie, en sal ook nie op aarde al die
antwoorde kry nie. Maar ons weet dat God oor alle mag beskik in die
hemel en op aarde, en tot in ewigheid. Van hierdie krag stel Hy aan elkeen
van ons beskikbaar om te dra wat ons moet dra. Ons kan alleen maar hierdie
krag aangryp om ons pyn en swaarkry ligter te maak.
Ons moet naby aan God leef om hierdie krag by Hom te kry.
Ernest