Daar is nie iets soos spesiale Christene nie. Jy hoef nie ‘n “spesiale”
Christen te wees voordat jy iets vir God kan beteken nie. Wees net
‘n gelowige wat Hom elke dag op sy woord neem. Jesus het ‘n paar
belangrike dinge oor ware grootheid in sy Vader se koninkryk gesê.
In Markus 9 lees ons van die dissipels wat praat oor wie van hulle die
belangrikste is in die koninkryk van God. Jesus het egter die wind
heeltemal uit hulle seile geneem met sy opmerking dat die werklike
groot persone in sy koninkryk diegene is wat dit self nie eers weet nie!
Dit is diegene wat soos klein kindertjies in God glo.
Markus 9:33-35: “Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom,
het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”
Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met
mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het gaan sit en
die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees,
moet hy die laaste en almal se dienaar wees.”
Dit waarna Jesus hier verwys, is gelowiges wat hulle naaste sonder
voorbehoud dien. Hulle wat nie telling hou van wat hulle vir God en
ander mense doen nie. Dit beteken nie dat hulle ‘n hoër status in God se
oë as ander het nie. Nee, Jesus wil net hiermee sê dat die rolle in sy
koninkryk heeltemal omgeruil is. Glo soos kindertjies en sien mense wat
om jou leef se nood raak, en dien hulle.
Wêreldse opvattings en status moet nie in die kerk van die Here ingedra
word nie. Dit geld nie in die geloofsgemeenskap nie. Ruil jou klere in vir
dienskneg-klere!
God raak nie opgewonde oor mense wat visioene sien en grootpraat oor
geloof nie. Hy raak eerder opgewonde oor gelowiges wie se regterhand
nie weet wat die linkerhand doen nie. Om jou aardse koninkryk in te ruil
vir God se koninkryk vra jou hele lewe! Jesus nooi ons uit om dit te waag:
Oom ons lewe regtig volledig in sy hand te plaas!
Ernest