Markus 10:35-37: “Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus,
kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet
vir ons doen wat ons gaan vra.” “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”
het Hy hulle gevra. Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers,
laat ons dan langs U sit, die een aan U regterhand en die ander aan U linkerhand.”
Die twee beste plekke in sy koninkryk... dit is wat hulle van Jesus vra.
Hulle bespreek dit sommer al vroegtydig. Jesus was verstom oor hierdie onbegrip
van sy volgelinge. “Julle weet nie wat julle vra nie”, het Hy gesê, en toe opnuut aan
hulle verduidelik dat die ware grootheid in God se ryk met dienslewering verband
hou! Verse 43-45. Om groot te wees moet ons dien! Ons moet ons eie selfsugtige
begeertes eenkant toe skuif. Belangrikheid in God se oë het niks met status
te doen nie.
Jesus is natuurlik die uitnemende voorbeeld van dienslewering. Hy het sy eie
verhewe posisie in die hemel prysgegee en die gestalte van ‘n slaaf aangeneem!
Hy kom breek die lewensbrood met sondaars. Hy draai af na elke wanhopige en
uitgeworpene langs die pad. Ons kan net bereid wees om onsself te verloën en
ander te dien as die Here in jou hart leef. God se liefde maak jou blind vir menslike
vooroordele. Jy dien sonder om enige iets terug te verwag. Jy gee ‘n plek aan iemand
in die verkeer sonder om eers te verwag dat die persoon vir jou dankie sal sê. Jy dien
regtig sonder om enige iets terug te verwag, want jy doen alles van harte,
soos vir die Here en nie vir mense nie.
God wil deur gewone mense die wêreld bereik. Mense wat Hom op sy woord neem.
Mense wat nie gepla is oor eie aardse koninkryke nie. Mense wat bereid is om uit
hulle eie geriefsone en veilige ruimte te beweeg, en grense oor te steek, en die mees
onwaarskynlike mense te dien. Selfs jou vyande! Jou geloof laat jou stilstaan by mense
wat hulp nodig het. En jy help hulle! Dit is op hierdie pad wat ons ook die stem van
Christus die heel duidelikste sal hoor. Want dit is op hierdie pad waar Christus
Homself bevind.
Ernest