Die Bybel wemel van voorbeelde waar God sy wil verander.
So het Hy byvoorbeeld in reaksie op Hiskia se gelowige gebed
sy sterfdatum met ‘n volle 15 jaar uitgestel. Hy het ook sy klaar
aangekondigde doodstraf oor Nineve opgehef na hulle hartgrondige
berou in Jona 4. Dinge soos gebed en bekering het ‘n uitwerking op
God se wil. Dit is ook waar dat God toelaat dat mense van Hom kan
verskil en dat hulle dit selfs met Hom kan bespreek en met Hom
daaroor kan “redeneer”.
Dink maar aan die volgende drie gedeeltes uit die woord van die Here,
waarvan ons vandag die eerste een bespreek:
Die eerste is in Matteus 15 waar ons lees van die Kanaänitiese vrou wat
radikaal met Jesus verskil. Uiteindelik gee Hy haar haar sin. Matteus 10:6
vertel dat Jesus se aardse sending hoofsaaklik was om die verlore skare
van die huis van Israel bymekaar te maak. Hy wou die verbondsvolk
teruglei na lewe. Op ‘n dag, terwyl Hy hiermee besig was, het Hy deur
die gebied van Tirus en Sidon gereis. Hier kruis Hy paaie met die
Kanaänitiese vrou. Al is sy van heidense afkoms, kom sy nogtans na
Jesus toe. Vanweë die krisis met haar duiwelbesete dogter het sy besluit
dat Jesus haar kon help.
Aanvanklik ignoreer Jesus haar! Die dissipels is baie ontsteld dat ‘n onrein
vrou Hom lastig val. Maar selfs dit skrik haar nie af nie. Dit is toe Jesus vir
haar sê dat Hy slegs na die onrein skape van Israel gestuur is. Maar sy gee
nie op nie! “Help my, Here”, het sy pleitend gevra. Hierop spreek Jesus
haar skerp aan en sê dat sy as heiden nou die brood uit die kinders van
Israel se monde wil vat.
Maar die vrou sê:
“Here, gee maar net vir my die krummeltjies wat van die tafel afval.”
Sy was tevrede met net ‘n krummel van God se genade. Jesus het haar
geloof aangeprys en haar wens toegestaan! Jesus was bereid om ter wille
van die geloof van een vrou sy sending te wysig. Nou het Jesus in die
openbaar aangekondig dat sy koninkryk vir alle mense is.
Volhardende geloof wat ‘n mens desperaat op jou knieë voor God laat
neerval, beweeg God se hart en sy hand. Wanneer dit voel asof die lewe
jou in ‘n hoek vasdruk, moet jy nie opgee nie. Geloof beteken om juis in
sulke omstandighede met God te bly praat. God is nie doof vir opregte
gebed nie. God luister na hulle wat opreg bid. Bid opreg! Maak in alles
jou begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God
bekend!
Ernest