By ‘n kerklike kongres was ‘n vrou wat net eenvoudig tee geskink
het en lekker koek voorgesit het wat sy self gebak het. Een van die
kongresgangers het haar gevra of sy self die lekker koek bak. Sy het
gesê dit is inderdaad sy wat dit doen. Sy het nie die gawes en talente
wat die kongresgangers het nie, maar sy het besluit sy sal die mense
tot eer van die Here dien met lekker koek en tee en die opwas van die
drink en eetgerei na die kongres verdaag het. Een van die kongresgangers
het getuig dat hierdie dame se woorde en dienende dade vir hom meer
beteken het as die hele kongres self!

Dit is ook hierin wat die verhaal van Naäman in 2 Konings 5:1-3 ter sprake
kom. Hy was die hoof van die leër van die koning van Aram. Hy was ‘n dapper
soldaat, maar het melaats geword. Op een van hulle strooptogte het hulle ‘n
jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het.
Sy het vir Naäman se vrou gesê Naäman moet by die profeet in Samaria uitkom
wat hom van sy melaatsheid gesond sal maak.

Hulle het ag geslaan op hierdie klein dogtertjie se woorde en gedoen wat sy
gesê het. Heeltemal teen die verwagting in. Sy is immers ‘n jong slaaf wat
maar net haar werk getrou gedoen het. Hierdie jong dogtertjie het maar net
die rigting na Elisa en na God aangewys. Dit was genoeg! Dit het die lot van
baie verander! Naäman is genees toe hy by die profeet van God uitgekom
het, en hy en sy leër het voor God gebuig.

God gebruik gewone mense in sy diens. Niemand is te gering of onbenullig
om in God se diens te staan nie. Dit is juis die mense wat stilweg en agter die
skerms die Here en ander mense dien wat eintlik die grootste werk vir die
Here doen! God vra net dat elke gelowige tot sy beskikking sal wees. God self
doen die groot dade deur ons! Wees net elke dag getrou op jou pos vir die Here.
Die meeste van die wonderlikste werk wat Hy deur jou doen,
weet jy nie eers van nie!

Ernest