Vandag kyk ons na die tweede voorbeeld van God wat sy wil verander.

Ons dink dikwels ons kan nie waag om met God te stry of te onderhandel nie.
Kan ek byvoorbeeld, as ek siek is, met God onderhandel en dan beloof om
weer voluit vir Hom te leef as ek gesond sou word? Kan ek probeer om God
met my gebede te beïnvloed?

Kom ons kyk na Abraham se gebed vir Sodom in Genesis 18. Baie mense haal
hierdie gedeelte aan om hulle eie onderhandelinge met God te “regverdig”.
Sodom was ‘n woeste plek. So erg dat God op ‘n dag besluit het om dit te verwoes.
Hy het hierdie besluit met sy getroue dienaar Abraham gedeel. Dit het Abraham
aan die hart gegryp. Hy het dadelik vir Sodom ingetree by God en gevra of God
dit nie wou oorweeg om die stad te spaar as daar selfs net 50 regverdiges gewoon
het nie. God het ingestem. Toe vat Abram nog ‘n kans: Wat van 45? God was weer
inskiklik. Abraham het dit nog ‘n paar kere met God se genade gewaag. Uiteindelik
het hy volstaan op 10. Vir ‘n volle ses kere was God bereid om aan Abraham se
versoek toe te gee! God is “oop vir onderhandelinge”. God gee juis gebed aan ons
om saam met Hom daarin te worstel ter wille van sy koninkryk en die eer van sy Naam.

Daarom is dit belangrik om seker te maak waaroor jy met God wil “onderhandel”
en worstel in gebed. Ons moet eers seker maak dat dit waarvoor ons bid tot God se eer
en verheerliking strek, en dat dit nie gaan oor my eie selfsugtige begeertes nie. Abraham
worstel met God oor God se koninkryk. Hy gaan pleit vir die lewens van medegelowiges...
as daar maar selfs net soveel, of soveel, sou wees... Hy het nie eers geweet of daar
gelowiges in Sodom is nie! Hy ken God se hart wat klop vir al sy kinders, waar hulle
ookal mag wees. Dit gaan ook nie hier om Abraham self nie, maar ‘n veel groter saak.

Gebed is nie starre roetine waardeur jy elke keer moet worstel nie. Dit is ‘n lewende
tweegesprek tussen jou en God. Gebed vereis dikwels waagmoed van ons kant af!
Die moed om God te “oorreed” dat dít waarvoor jy bid regtig oor Hom en sy koninkryk
gaan. Dat dit wat op God se hart is ook op jou hart is. Gebed moet dinamies bly, en nie
maar net roetine nie. Soos met Abraham. Hy “stoei” met God oor die moontlike gelowiges
in Sodom.

Natuurlik word hierdie waagmoed om met God te onderhandel nie oneerbiedig gedoen nie.
God kan nie na ons vlak gebring word in “onderhandeling” nie. Ons verskyn immers as mense
voor die almagtige God! En ons besef ook dat God kan bly “nee” sê vir dit waarmee ons met
Hom worstel. Die Heilige Gees sal ons lei om te bly worstel, of om te aanvaar wat God se wil
is en dat God “nee” sê. Bid daarom ook vir ‘n fyn aanvoeling om die Gees van God te hoor en
te gehoorsaam, en Hom nie te weerstaan nie. Verdiep jou deurgaans in die Woord om so ook
God se wil beter te verstaan en nie “daarteen” te bid nie. Neem waagmoedig jou plek in voor
God, in gebed, en worstel ook om God se wil regtig uit te leef in jou eie lewe!

Ernest