Ons kom deur verskeie verhale in die Bybel agter dat gewone gelowiges
eintlik God se voetsoldate is. Hulle is die mense wat daagliks God se koninkryk
se grense uitbrei deur dienslewering en deur hulle kinderlike geloof. Gewone
gelowiges is ook dikwels die mense met “gebedskrag” wat daagliks met
mosterdsaad geloof berge verskuif. Ons kan ons identifiseer met “gewone”
gelowiges. Dit is hoe ons onsself sien. Ons is nie super gelowiges nie. Ons hoor
ook gereeld dat God gelowiges soek wat Hom op sy woord neem. Maar ons
kry dit nie altyd reg nie. Dan sit ons met allerlei skuldgevoelens.

Die belangrike is dat ons moet besef daar is ook ‘n twyfelkant van geloof.
Geloof omvat heelwat fasette. Twyfel is een daarvan! Daar is regtig plek vir
twyfelaars by God. Dit klink natuurlik nie reg op die oor nie en mense sê daarom
min hieroor. Die Bybel het egter heelwat hieroor te sê.
Selfs die “grootste” van alle profete op aarde het op ‘n dag getwyfel. Ons lees
hiervan in Matteus 11. Die verhaal oor Johannes die Doper. Volgens Jesus was hy
die grootste van alle mense wat nog op aarde geleef het (11:11).

En wat doen Johannes toe hy in die tronk beland? Johannes se geloof het hom in
sy donkerste uur in die steek gelaat. In Matteus 11:3 vra hy aan Jesus: “Is U die Een
wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” Dit is nie die soort vraag wat ons
van Johannes sou verwag nie. Net vroeër het hy die Messias gedoop! Hy het die
pad vir Jesus voorberei en ook sy koms aangekondig. Ons verwag tog dat hy met
‘n groot geloof aan Jesus sou vashou! Tog pak twyfel hom beet in sy donkerste
oomblik.

Jesus se reaksie op Johannes se twyfel is egter baie insiggewend! Dit gee ons
baie moed om te sien hoe Jesus reageer. Met groot deernis het Hy Johannes
hanteer, en hom nie veroordeel oor sy twyfel nie. Hy bevestig aan Johannes dat
Hy wel die Messias is. Eers nadat Jesus Johannes se geestelike wonde verbind het,
het Hy bygevoeg dat ons as gelowiges nie moet twyfel nie, maar moet bly glo.

Ons voel ook soms só. In die donker ure wil ons handdoek ingooi. Daar is nie altyd
genoeg begrip vir twyfel nie. In ons dag het die fokus geskuif na al die “groot” dinge
wat ons in geloof moet doen. Ons lê groot klem op hoé ongelowige swakkelinge in
geestelike reuse verander het. Daarom is Johannes se verhaal in die Bybel iets
groot om uit te leer. As hy, wat Johannes die Doper is, moedeloos geraak het en
begin twyfel het, dan sê dit baie vir ons oor ons eie twyfel en God se hantering
daarvan. God verstoot ons nie wanneer ons twyfel nie.

Maar wat moet ons doen met ons twyfel? Gaan na God toe daarmee, soos
Johannes na Jesus toe gegaan het. Johannes het nie toegelaat dat sy twyfel al
groter geword het nie. Hy het dit na Jesus geneem. Hy hanteer dit. En let op:
Hy neem dit na Jesus, juis die Een oor Wie hy twyfel. En Jesus verstaan. Dit geld
ook ons twyfel oor God. Neem dit juis na Hom toe! Gelowiges wat so seer en
stukkend is dat hulle nie meer die moed het om verder te glo nie, kan met die
grootste vrymoedigheid juis na God gaan!
Gaan sit met jou twyfel by die voete van Jesus.

Ernest