Ja, jy het reg gelees. Die opskrif vra: Waarvoor volg jy Jesus!
Ons kan baie maklik vir Jesus volg rondom die verkeerde redes.
Ons kan nie vir Christus volg op enige ander manier nie, as volgens
die beginsels wat Hy self neergelê het! Ons moet Hom alléén
onvoorwaardelik volg.

In Johannes 2 lees ons dat mense na Jesus toe gekom het bloot omdat
Hy groot wonders gedoen het. Hulle het agtergekom dat Jesus baie gewild
was en wou daarom in sy teenwoordigheid wees. Dieselfde het met die
skrifgeleerde gebeur van wie ons in Matteus 8 lees. Hy sien hoe die mense
Jesus omring en wou toe van die kollig op homself laat val. Daarom het hy
homself kom aanbied met die vroom woorde: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”

Jesus het die skares en die skrifgeleerde se ware motiewe geken. Hy het geweet
dat hulle Hom net wou volg vir die byvoordele wat dit vir hulleself ingehou het.
Hulle was nie bereid om die kruis op te neem en agter Jesus aan te kom toe Hy
die lydens-pad moes loop nie. Hulle volg Hom net by waters waar daar rus en
vrede is.

Vandag nog kom ons met allerhande verkeerde motiewe na Jesus toe. Ons soek
steeds na ‘n verlosser wat aan ons behoeftes kan voldoen. Matteus 12:38 is so
‘n voorbeeld wanneer die Fariseërs en skrifgeleerdes met foutiewe verwagtings
vir Jesus sê: “Meneer, ons wil ‘n wonderteken van U sien.” Die behoefte na ‘n
skouspelagtige Messias wat op aanvraag allerlei groot dinge vir óns moet doen.
So nie, glo ons nie...

Wat het dit met ons twyfel en kleingeloof te doen? Presies dit: Twyfel is dikwels
die resultaat van verkeerde verwagtings wat ons van God koester! Ons verwag
byvoorbeeld dat God dadelik op ons versoeke moet reageer. Boonop moet God
reageer soos ons van Hom gevra het. Presies só en só. Wanneer God dan nie
reageer op óns tyd en op óns verwagting nie, dan maak ons geloof ‘n noodlanding!
Ons is dan op moedverloor se vlakte en beleef dat God ons in die steek gelaat het.
Ons draai selfs ons rug op God omdat Hy nie meer omgee nie.

Hoe kan ons bogenoemde probleem van twyfel oorkom? Deur gewoon gereeld
met God se Woord besig te wees sodat God daardeur met ons besig kan wees!
In die Woord openbaar God Homself duidelik aan ons. So leer ons God meer en
meer ken, en verstaan beter en beter om die regte dinge van God te vra, op die
regte manier, en met die regte verwagtinge. Ons skuif uit die middelpunt, en God
se eer en God se wil skuif na die middelpunt van ons lewe, ons lewe vir Hom!
Ons begin om Jesus onvoorwaardelik te volg ter wille van Hom, en nie ter wille
van onsself nie.

Die God wat ons dien staan nie reg met ‘n klompie kitsoplossings ter wille van
onsself nie. Hy deel ook nie gemaklike “geloofspakette” aan ons uit wat op ons
aanvraag beskikbaar is nie. Ons moet ons inoefen om in die moeilikste tye aan
Jesus te bly vashou. God het ons geloofsgroei in die oog, en nie ons gerief of
aardse geluk nie. Dit gaan nie in ons geloof oor byvoordele nie.
Geloofsmoed! Dit is wat dit vra. Dit vra baie moed om God te volg
wanneer baie dinge eenvoudig nie vir ons sin maak nie.
Dit is juis die merkteken van ware geloof!

Ernest