Wat laat ons twyfel? Ons sal seker elkeen ‘n lysie kan maak
van wat ons dink ons laat twyfel. Een van die hoof-oorsake is
verseker dat ons te min van God verwag en daarom ons eie
probleme self probeer oplos. Dit maak dan ook dat ons die probleem
dikwels groter maak as wat dit is. Soveel so dat ons probleem vir ons
groter word as God! Dan begin ons probleme ons lewe oorheers en
twyfel slaan hard aan die deur om in te kom. Verseker leef ons in
moeilike tye. Ons worstel dikwels met dinge wat ons moontlik kan
oorkom. Bekommernis begin ons gedagtes beetpak. Mense is baie
negatief oor die lewe. Dit is eg menslik dat bekommernis oor baie
dinge ons treiter. Die probleem is dat gelowiges begin perspektief
verloor! Ons dink die hele wêreld stort in duie omdat ons dalk
materiële dinge kan verloor.
Jesus het dit alte goed geweet en alreeds in sy tyd vir ons kom leer in
die Bergrede in Matteus 6:25: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie
bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor
julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker
as kos en die liggaam as klere nie?”
Die lewe is regtig belangriker as die algemene dinge waaroor ons ons
so baie bekommer. Die meeste mense verskil met Jesus op hierdie punt.
Hulle beheptheid met hulle besittings is die bewys daarvan! Jesus verwag
egter van sy volgelinge om anders te leef in hierdie opsig. Jou besittings
gaan kort voor lank al jou tyd en energie opeis. God verdwyn dan gaande-
weg van die toneel. Bekommernis oor materiële dinge, en veral geld,
bring nie op die langtermyn enige dividende nie.
Wat moet gelowiges doen? Ons moet regtig ‘n nuwe visie op God kry!
Hy waarborg immers dat Hy persoonlik elke dag vir sy kinders sorg!
Ons is die kroon van God se skepping! Die kroon van sy sorg! God sal
op die regte tyd voorsien wat Hy weet ons nodig het, en nie wat vir ons
lekker en gerieflik is nie. Kleingeloof en bekommernis loop hand aan hand.
Belangrik: Vertrou dat God dit moet uitsorteer en in al jou behoeftes sal
voorsien. Hy moet weer groter as jou probleme in jou lewe word, dan sal
kleingeloof en twyfel die wyk neem. Dit vra natuurlik moed om so te glo.
Maar Christus nooi ons uit om Hom hierin te toets.
Ernest