Matteus 5:7: “Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle
sal barmhartigheid bewys word.” Barmhartigheid is seker die
mooiste wat ons vir ons medemens kan doen. Dit is om met God
se hart na iemand anders te kyk en met God se hart iemand anders
te benader. Dit is die liefde van God wat deur jou in dade oorgaan
na jou medemens. Om te sê dat jy barmhartig is, is om jou te verbind
tot Lukas 6:36: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”
Dit is om mense te sien soos God hulle sien. Kyk met sagte oë na
almal om jou. Kyk na mense soos God na jou kyk. Met deernis, liefde
en sorg. Mense lyk anders as jy deur God se oë na hulle kyk!
Barmhartigheid bring elke keer ‘n stukkie hemel aarde toe!

Barmhartigheid het ook ‘n rimpeleffek na ander mense. Dit kring uit
soos wanneer jy ‘n klip in die water gooi.
Die eerste rimpeleffek is waardering vir mekaar. Mense vind vrygewig
vreugde en plesier in mekaar.
Die tweede rimpeleffek is om vir mekaar om te gee. Dit is om jou te
ontferm oor mense wat op die een of ander manier in die nood is.
Dit is om mekaar se laste te dra.
Die derde rimpeleffek is om mekaar te vergewe. Dit is die moeilikste
deel van barmhartigheid. Maar dit is ook die verrykendste deel.
Nêrens is ons meer “soos God” as wanneer ons iemand vergewe nie!

Barmhartigheid is om in iemand anders se skoene te gaan staan.
Jy begin sien soos hulle sien, dink soos hulle dink en voel soos hulle voel.
Dit is presies wat God in Christus Jesus met ons kom doen het.
Barmhartigheid is liefde in aksie. Die praktiese beginsel van barmhartigheid
is baie belangrik: As jy dit vir die geringste doen, doen jy dit vir Jesus.
Dit is nie ‘n luukse wat keuses veronderstel nie, maar ‘n opdrag van Jesus
ten opsigte van alle mense.

Met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, in Lukas 10:25-37,
leer Jesus ons vier dinge:
Eerstens: Ons moet mense help, al het hulle hul nood oor hulself gebring.
Die man in die gelykenis moes weet jy loop nie alleen die pad tussen
Jerusalem en Jericho nie.
Tweedens: Enige mens van enige afkoms wat in nood is, is ons naaste!
Ons hulp is so wyd soos die Here se liefde en genade.
Derdens: Ons hulp moet prakties wees. Dit help nie jy praat oor die liefde,
maar jy voel nie jammer en tree nie op nie, soos die priester en die Leviet.
Liefde, barmhartigheid wat eg is, gaan oor in dade.
Vierdens: Moenie vir ander wag om iets te doen nie. Dink aan Jesus wat
self opstaan en die dissipels se voete was.
Barmhartigheid staan op en dien.

Kyk met sagte oë na mense. Deur ander lief te hê, het ons Jesus in hulle lief.
En hulle ontmoet weer Jesus in ons, deur die liefde wat Jesus, deur ons, aan
hulle gee!

Ernest