1 Tessalonisense 5:18: “Wees in alle omstandighede dankbaar,
want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
In Lukas 17:11-19 lees ons van tien melaatses wat deur Jesus gesond
gemaak is. Net een van hulle het omgedraai en vir Jesus kom dankie sê.
Boonop was hy ‘n Samaritaan. Die Jode het erg op hulle neergekyk...
Jou dankbaarheid teenoor God word dikwels gesien in hoe jy mense
behandel wat baie minder as jy het en ook in status in die samelewing
baie laer as jy is. ‘n Bedelaar het by geleentheid gesê hy het nie iemand
nodig om vir hom te bid nie, maar net iemand met wie hy kan praat wat
hom menswaardig sal behandel...
Jesus kyk na die tien melaatses en sien mense wat onmenswaardig
behandel is, uitgeworpenes. Hulle moet nood en leed wat té swaar is
alleen dra. Hy reageer met liefde en genees hulle.

Net die Samaritaan kom sê dankie. Jesus vra vir die dankbare Samaritaan:
“Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?”
Gebrek aan dankbaarheid lê baie dieper as wat ons dink. Die melaatses
kon nie saam met hulle familie aanbid, werk of leef nie. Hulle is vir alle
praktiese doeleindes eintlik dood... Die Jode het die genesing van melaatses
gesien as gelykstaande aan opwekking uit die dood – 2 Kon. 5:7.
Jesus gee hulle vir alle praktiese doeleindes weer lewe!
En net een kom sê dankie.

Dankie sê, dankbaarheid, is ‘n opdrag van God. Lees weer 1 Tess. 5:18:
“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus
Jesus van julle verwag.” God verwag dankbaarheid! Ons dankie sê aan
God het ook baie te doen met ons dankbaarheid teenoor ander mense.
Meister Eckhard het gesê: “As “dankie” die enigste gebed is wat jy ooit
bid, is dit genoeg!”
Paulus sê nog ‘n baie belangrike ding in vers 18: Ons dankbaarheid moet
wees onder alle omstandighede. Jy maak daagliks soos die Samaritaan
‘n U-draai na God toe en sê dankie!

John Henry Jowett het treffend gesê: “’n Lewe sonder dankbaarheid is
sonder liefde en passie. Hoop sonder dankbaarheid kan nie ver sien nie.
Geloof sonder dankbaarheid het ‘n gebrek aan krag en deursettingsvermoë.
Enige iets wat geskei is van dankbaarheid is gewond en loop mank op die
lewenspad verder.”

Ernest