Volg God se voorbeeld! Ja jy het reg gelees. Ons kan God se
voorbeeld volg! Kyk net wat sê die Woord van God in Efesiërs 5:1-2:
“Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy
voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en
om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir
God aanneemlik was.” Volg God se voorbeeld!...omdat jy ‘n kind van
God is, en Hy jou liefhet, moet jy sy voorbeeld volg. God se kinders
praat die taal van die liefde. Die taal van liefde is egter ‘n leeftaal!
Dit word deur dade gepraat.

Daarom vertaal The Message Ef. 5:1-2 ook treffend so: “Watch what
God does, and then you do it, like children who learn proper behavior
from their parents. Mostly what God does is love you. Keep company
with him and learn a life of love. Observe how Christ loved us. His love
was not cautious but extravagant. He didn’t love in order to get
something from us but to give everything of himself to us. Love like that.”
Mens wil eintlik hierdie twee verse oor en oor lees. Dit is asof jy nie
genoeg hiervan kan kry nie.

Uit hierdie verse kom ‘n paar wonderlike insigte na vore wat ons help om
van ons liefde ‘n leeftaal te maak. ‘n “Soos Jesus” leefstyl! Paulus roep ons
op om God na te boots, of na te volg. Die Griekse woord wat hy hiervoor
gebruik was baie bekend in die opleiding van orators. Dit het gegaan oor
die bestudering en die nabootsing van die meesters van spraak. Paulus wil
sê: Aangesien jy nou opgelei word in die léwe, moet jy die Here van alle
goeie lewe naboots! Kyk wat doen God! Volg Hom na daarin!
Die Woord van God is vol voorbeelde van hoe God teenoor mense optree
met liefde. Volg Hom na daarin. Marineer jou siel en gedrag in hoe God
optree.

Jesus volgelinge word deur Paulus gedefinieer as God se geliefde kinders!
Hulle word opgeroep om in liefde te leef. Hierdie lewe in liefde is ‘n aksie-
woord. Dit word ook vertaal met “wandel in die liefde”. Dit is liefde wat
grondvat in die wêreld. Dit is die liefde wat Jesus kom demonstreer het.
Volg Jesus se voorbeeld na! Hy het kom wys hoe God se liefde lyk.
Omdat ons kinders van God is, moet ons sy voorbeeld volg!
Leef soos Jesus geleef het! Meer en meer soos Jesus!

Ernest