Markus 12:30: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart
en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.”
Kom ons kyk na die betekenis van hierdie vier aspekte:
God liefhê met jou hele hart:
Hiermee word bedoel jou hart as die plek waar jou emosies gesetel is.
Ons hemelse Vader wil dat ons as sy kinders Hom met passie sal liefhê,
soos Hy ons liefhet. Dat ons ook met passie vir Hom sal leef! Daarmee
stel ons die koninkryk van God eerste en wil ons God se “koninkryk laat
kom”. Ons bid dit ook so in die Ons Vader gebed.
Matteus 6:33 beklemtoon dit ook so in die Nuwe Lewende Vertaling:
“Maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is,
julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge
as ‘n bonus byvoeg.”
God liefhê met jou hele siel:
Hiermee word ons Godgegewe persoonlikheid bedoel. Ons kan dit
waarskynlik sien as die kern van jou hele wese. Dit is jou léwe!
Die soort lewe wat net God ‘n mens kan gee. Dit is jou unieke liefde
vir Hom wat Hy in jou as unieke mens skep. Daar is geen ander soos
jý nie, wat God dan ook uniek só liefhet! Jou siel is die uitdrukking
van dit wat jou uniek anders maak, en jou ook in ‘n unieke verhouding
met God laat leef.
God liefhê met jou hele verstand:
Om God met jou hele verstand lief te hê, moet jy God se woorde in
jou verstand laat groei. Die Heilige Gees doen dit, en ons moet Hom
nie daarin weerstaan nie. Dink ook aan Romeine 12:2: “...laat God julle
verander deur julle denke te vernuwe...” God se Woord verander jou
denke! Filippense 4:8 is net so belangrik: “Verder, broers, alles wat
waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat
mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige
saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
Rig jou gedagtes doelbewus op God, en sy wil vir jou!
God liefhê met al jou krag:
Dit beteken die manier waarop jou gevoelens en gedagtes met die
wêreld daar buite in aanraking kom. Dan moet jy dáár al jou energie
gebruik om ‘n verskil in hierdie wêreld vir God te maak! Lees ook
bogenoemde Fil. 4:8 in hierdie verband.
Uit bogenoemde liefde vir God vloei dan die volgende opdrag van
Jesus, wanneer Hy by die Sjema hierdie deel uit Markus 12:31 byvoeg:
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Liefde vir God kan nooit geskei
word van liefde vir jou naaste en liefde vir jouself nie. Dit is onlosmaaklik.
Jesus som die hele boodskap van God se Woord so treffend en kort op!
Johannes 13:34 beklemtoon dit ook: “Soos Ek julle liefhet, moet julle
mekaar ook liefhê.” Jesus verwoord die hele bedoeling van God met ons
só uniek, dat niemand van ons kan twyfel oor God se bedoeling met ons
nie. Dit is God se skeppings-doel met elkeen van ons!
Moenie God se skeppings-doel met jou mis nie.
Moenie verby dit leef nie. Want dan mis jy wáre lewe...
nou, en vir altyd...
Ernest