Om in geloof te leef is nie altyd maklik nie.
Dit vra onder andere om vergenoegd te wees met jou
omstandighede. Dit is vir ons in ons moderne samelewing
uiters moeilik om vergenoegd te leef. Ons is meesters in kla.
Ons kla... en kla, die een meer en beter as die ander. Dit word
met soveel oorgawe gekla, dat dit wil voorkom asof ons in
“bitter lyding” leef.
Iemand wat werklik in moeilike omstandighede geleef het
was Paulus. Sy swaarkry het nie net met oppervlakkige dinge
alleen te doen gehad nie. Sy lewe was dikwels direk in gevaar
ter wille van sy geloof. Hy het hierin geleer dat sy geloof Hom direk
afhanklik van God gemaak het. Hy het ook ‘n verdere les oor swaarkry
geleer wat ons werklik ter harte moet neem:
‘n Mens moet altyd met jou omstandighede tevrede wees.
Dit leer ons in die Filippense brief. Dit is natuurlik nie moeilik as dit
goed gaan nie. Maar as ons in swaarkry is, stry ons bewustelik daarteen!
Dan kos dit veel meer as om met uiterlike vroomheid aan God vas te hou.
Slegs iemand met ‘n deurleefde geloof wat weet dat God altyd in beheer is,
kan dan kalm, tevrede en vergenoegd wees. In Filippense 4:12-13 leer Paulus
ons dat geloof nie net ‘n susmiddel is nie:
“Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek
ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om
oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom
wat my krag gee.”
Geloof is nie ‘n susmiddel wat jou blind maak vir lyding en die harde
werklikheid van die lewe nie. Paulus beklemtoon in Filippense 4 dat die sin
van die lewe nie afhanklik is van gunstige omstandighede nie. Die lewe is
veel meer as dit. Die lewe sentreer rondom Jesus Christus! Om in Jesus
Christus se voetspore te stap is nie elke dag gelyk-pad nie! Dit loop soms
steil op teen lyding en swaarkry.
Ons laat so maklik toe dat ons omstandighede ons verhouding met
God bepaal, in plaas daarvan dat ons verhouding met God oor ons
omstandighede heers. Dink mooi hieroor... en bid daaroor...
Ernest