Ons leef te midde van blinde woede.
Ons word daagliks daaraan blootgestel.
In flieks, soos Trainspotting, wat jou skoon naar maak van geweld en woede.
In die openbare media, in die nuus, op voorblaaie van koerante.
Stakings waarin mense alles voor hulle wil platvee, ook ander mense!
By ‘n rugbywedstryd slaan ouers mekaar oop en bloot, voor kinders.
Dit laat ook die kinders inspring en mekaar slaan.
‘n Seuntjie kom by die kerk aan, vol blou kolle en strepe,
genadeloos geslaan deur ouers.
Dit voel of ons onwillekeurig self slagoffers word van blinde woede.
Ons raak naar en siek daarvan.
Maar wat is ons eie aandeel hierin?
Hoe is ons deel van hierdie spiraal van woede?
Lê jy ook op jou toeter?
Wys vuis, verhef jou stem, stuur mense hel toe…..
Spoeg vuur oor die telefoon op ‘n onbekende mens.
En so wek ons woede baie groter woede.
Woede is nie per definisie verkeerd nie.
Dinge soos wrede moorde, korrupsie, misbruik van mag,
kindermishandeling, molestering, mans wat hul vrouens slaan,
die vernedering van mense, is alles dinge wat jou woedend behoort te maak.
In sulke gevalle fokus woede ons aandag, en dwing ons tot aksie daarteen.
Woede wat gekoppel is aan Bybelse sin vir Goddelike orde, respek,
waardigheid en liefde God, en vir mense, en vir die skepping,
is heilige woede.
Maar ons moet daadwerklik bydra teen die bestryding van bose woede.
Woede raak maklik ‘n selfregverdigende emosie.
Dat jy reg is, beteken nie dat jy kan vergeld nie.
Die Bybel sê duidelik dat die wraak jou nie toekom nie.
Romeine 12:19:
“Moenie self wraak neem nie, geliefdes,
Maar laat dit oor aan die oordeel van God.
Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,” sê die Here.”
Wat moet ons doen?
Lees verder in Romeine 12:
Vers 17: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.”
Vers18: “…leef in vrede met alle mense.”
Vers 20: “..gee jou vyand iets om te eet…iets om te drink…”
Vers 21: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,
Maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
So prakties!
Kry ons dit al reg?
Ons het elkeen nog ‘n pad om te loop hierin,
Verootmoedigend voor die Here!
Ons dra self nog soveél by tot die woede om ons….
Kom voor die Here hiermee.
Hy wil die kwaad ook deur joú oorwin.
Elke dag.
Ernest