Paulus konfronteer ons met die groot vraag:
Is jy bereid om vir Jesus te sterwe?
Die meeste van die tyd is so ‘n vraag bloot spekulasie,
maar nie vir gelowiges wat in lande bly waar ‘n mens vir jou
geloof vervolg word en daarvoor moet sterf nie. Daar word
ontstellende statistieke aangehaal dat meer mense sedert 1980
vir hulle geloof gesterf het as in al die eeue voor dit!
Die eenvoudige feit is dat dit nie van ons gevra word nie,
en dat ons daarom maklik daarop antwoord.
Dit sal waarskynlik nooit van ons gevra word nie...

Maar nou, die groter en baie belangriker vraag:
Is ek en jy bereid om vir Jesus Christus te léwe!?
Dit hou direk verband met die werklikheid waarin ons elke dag
asem haal! Is jy bereid om jou lewe só in die rigting van God te buig
en voluit vir Hom te lewe ondanks wát dit ookal van jou sal kos?!
Hierdie vraag kom tot in die kern van ons lewe.
Dít is nie spekulasie nie! Jou lewe is eenvoudig rééds
die antwoord hierop!
Moenie jouself op geen manier terughou nie.
Gee jou lewe een honderd persent vir die Here!

Paulus skryf dit treffend so in Galasiërs 2:19-21:
“...ek leef nou vir God. Want ek is saam met Christus gekruisig.
Toe Hy aan die kruis gehang het is ek saam met Hom daar vasgespyker.
Daarom is ek nou ‘n nuwe mens. Daardie ou, sondige ek is iets van die
verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my. Nou leef ek deur
geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief
dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer.
Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie...”

“My hele bestaan draai om die Seun van God.” Wat ‘n getuienis!
Dit is die antwoord op die vraag:
Is ek en jy bereid om vir Jesus Christus te léwe!?
Treffend sê Paulus: Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers
laat glip nie...
En jou lewe? Is ek nie dalk net besig om my lewe saam met
die Here deur my vingers te laat glip nie...?
Die belangrikste vraag van alle vrae...

Ernest