Ons leef al lank in ‘n tyd van allerhande –ismes.
Ons onthou kommunisme, kapitalisme, konserwatisme, modernisme.
Allerhande –isme dinge.

Mick Hume, rubriekskrywer van The Times(London),
sê die gevaarlikste –isme van ons tyd is sinisme!
Die geloof dat almal leuens vertel, dat bykans alles leuens is,
en daarom is daar geen saak wat meer die moeite werd is,
om voor te staan en om voor te baklei nie.
Sinisme maak dat jy aan niks glo nie.
Jy dra niks op die hart nie, beskerm niemand se belange nie,
dra nie by tot ‘n kollektelys nie, verbind jou aan geen organisasie nie,
en verloor jou geloof in die goedheid van die mens.

Ongeveer vier honderd jaar gelede skryf Cervantes die meesterwerk Don Quijote.
Dit is, onlangs nog, as die beste boek nóg aangewys.
Dit is die verhaal van Alonso Quijano wat te veel ridderromans lees,
hom dan verbeel hy is die ridder Don Quijote,
en met sy eentandperd, Rosinante, en ouderwetse wapens,
die euwels van die lewe aandurf!
Sy meer realistiese lyfkneg, Sancho Panza,
is nie so oortuig dat die windmeulens vyandige reuse is nie!
Die troppe skape is ook nie regimente aanvallende soldate nie!
Maar die Don wil niks weet nie.
Hy wil euwels met wortel en tak uitroei.
Hy wil alles wat mooi en waar is bevorder, en geregtigheid herstel.
Dit vereis sy ridderlike optrede.
Hy veg teen allerlei “geeste in die lug”,
ten spyte van die een mislukking na die ander.

Gek? So het die mense van Madrid en die 17e eeu ook gedink.
Die geskiedenis het anders daaroor begin dink.
Dit word die gesprek tussen waan en werklikheid.
Optimisme teenoor realisme.
Die vervreemde wat alleen teen die kwaad stry.
Op sy sterfbed besef Don Quijote hy het in ‘n waanwêreld geleef.
Hy sweer die ridderromans as verleidings af,
ontvang die laaste sakrament, en sterf vreedsaam.
Maar in ons wêreld van groeiende sinisme, kom spook Don Quijote weer by ons.

Ons kan nie net in ‘n wêreld van ons eie intrek nie.
Sinisme steel jou Godgegewe lewe!
Jy leef sonder groot ideale. Net op jou eie heil gekonsentreer.
Dit is lynreg teen God se wil, naamlik dat ons moet verantwoordelikheid aanvaar
vir wat rondom ons aangaan.
Ons is sy verteenwoordigers en gestuurdes in hierdie wêreld.
Ons kan nie net deel word van ‘n gryp en vat wêreld nie.

Jesus gee,…. Hy gee sy lewe sodat die nuwe hemel en nuwe aarde kan kom.
Ter wille daarvan moet ek ook, by wyse van spreke, ‘n Don Quijote word.
“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Johannes 20:21.

Ernest