Galasiërs 6:2: “Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry
en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit
vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag.
Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.”

Om mekaar se laste te dra beteken nie om mense se “hangups”
te duld nie. Dit beteken ook nie dat jy dink jy moet elke probleem
kan oplos nie. Dit verwys eerder na dit wat vir mense moeilik is
om te dra na liggaam en gees. Dit wat nodig is om met hulp gedra
te word.

Martin Luther het by wyse van spreke gesê gelowiges moet sterk
skouers en bene hê sodat hulle swaar laste kan help dra. Dan het
ons lief soos Jesus liefhet. Dit is omgee vir mekaar. Dit gee aan die
lewe diep betekenis. Henri Nouwen het gesê:
“Wie iemand anders teen ‘n opdraand uithelp, kom self ook bo!”

‘n Gelowige wat onder beheer van die Heilige Gees lewe, sal help
om ‘n medegelowige se laste te dra. Die laste waarvan Paulus hier
praat, verwys na enige iets wat vir ‘n medegelowige die lewe
moeilik maak. Prakties gesproke kan dit in ons dag iets wees soos
siekte, emosionele probleme, werkloosheid, finansiële probleme,
en so meer.

Julius Rosenwald het gesê: “Al die plesiere van die lewe neem die
een of ander tyd af, maar die groot bevrediging daarvan om iemand
in nood te help en sy laste te help dra, bly altyd dieselfde. Dalk is dit
een van die vorms van “die lewe in oorvloed” waarvan Jesus gepraat
het. Dra mekaar se laste... en doen so wat Jesus van jou verwag.

Ernest