Galasiërs 6:3-5: “As julle dink dat julle te belangrik is om
vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van
die evangelie nie. Gaan kyk ‘n slag goed na julle eie lewe.
Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe
tot stand gebring het sonder om julle gedurig met ander
gelowiges te vergelyk. Op die ou end sal julle slegs oor
julle eie lewe aan God moet rekenskap gee.”
Hierdie is baie belangrike woorde oor hoe ons moet leef.
Vers 3 is uiters belangrik. Kyk net hoe sterk word dit gestel:
“As julle dink dat julle te belangrik is om vir ander mense
om te gee, begryp julle net mooi niks van die evangelie nie.
In ons tyd, en op die manier waarop ons leef, is hierdie
woorde radikaal! Ons sal regtig moet doen wat vers 4 sê:
“Gaan kyk ‘n slag goed na julle eie lewe...”
Paulus praat hier oor selfsugtigheid, want dit is een van die
hoof-oorsake hoekom ons nie vir ander mense omgee nie.
Samuel Taylor Coleridge het harde woorde hieroor gesê:
“In sy grootste gedig “Paradise Lost”, het John Milton in die
figuur van Satan meesterlik uitgebeeld hoedat ons mense
se intense selfsug maak dat ons liewer ‘n regeerder in die
hel sal wil wees, as ‘n dienskneg in die hemel.”
Harde woorde... maar dit laat jou dink aan ons as mense
se ontsettende self-gerigtheid en selfsug. Dit is geen geringe
saak nie, om selfs in die geringste saak van jou eie belange
af te sien! Willem Nichol het gesê: “Die reis weg van jou ego
is lank en steil.”
Die ander probleem wat Paulus aanspreek is dat ons onsself
voortdurend met ander vergelyk. Dit beteken aan die een kant
dat jy te veel van jouself dink, en dink jy is beter as ander.
Of dit beteken aan die ander kant dat jy dink jy is nie “goed
genoeg” nie. Beide is ewe gevaarlik! Paulus sê:
“Wees tevrede met die goeie dinge wat God in julle lewe tot
stand gebring het sonder om julle gedurig met ander gelowiges
te vergelyk.”
As jy nie tevrede is nie, is jy met God onvergenoegd!
Gelowiges waardeer mekaar se uniekheid, want God skep elke
mens en seën elke mens soos Hy wil. Eer Hom daarvoor!
Doen dit met dankbaarheid! Jy moet die wêreld en ánder
mense juis met jou uniekheid verryk! Dit is God se doel met jóú.
Gelowiges moet mekaar waardeer en help om hulle unieke self
te word en te wees.
Ernest