Galasiërs 6:7-8 sê: “Moenie julleself bedrieg nie.
God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie.
Dit wat jy plant, sal jy ook oes. As jy jou lewe
gaan inplant op die terrein van die sonde,
sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander
kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van
die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes
van Hom ontvang.”

Daar is sekere goed wat ons kan kies, en ander
goed wat ons nie kan kies nie. Ons kan byvoorbeeld
nie kies hoe ons doodgaan nie, maar ons kan wel kies
hoe ons lewe! Bogenoemde verse wil ons herinner aan
ons keuse oor hoe ons wil lewe. Laat jy altyd goedheid plant,
want dit bring kwaliteit lewe. Daarom sê Galasiërs 6:9-10:
“Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die
Here wil hê. Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom
ontvang. Terwyl ons nog tyd oorhet, moet ons elke geleentheid
benut om goed te doen aan almal wat op ons pad kom...”

Die fliek “Amazing Grace” het gegaan oor William Wilberforce
en die positiewe invloed wat John Newton, die skrywer van die
lied “Amazing Grace, op hom gehad het, en die effek wat dit op
die wêreld gehad het.
William was verantwoordelik vir die afskaffing van slawehandel
in Engeland, wat natuurlik wêreldwye effek gehad het.
Na sy bekering het Galasiërs 6:9 hom gedryf om nooit moeg te
raak om die goeie te doen nie, en hy het besluit om hom te beywer
vir die afskaffing van slawehandel. William het die een nederlaag
na die ander gely. Uiteindelik, na 20 jaar, het die Engelse parlement
besluit om slawehandel af te skaf. Tot met sy dood was William
Wilberforce bekend as “die gewete van Engeland.”

Moet nooit moeg raak om God se “amazing grace” teenoor ander
mense uit te leef nie.
Kom ons hou aan om goed te doen... Gal. 6:9.

Ernest