Galasiërs 6:11: “Hier teen die einde van my brief het ek
dit goedgedink om self die laaste paar woorde aan julle
te skryf. Tot dusver het my sekretaris alles neergeskryf.
Maar nou skryf ek self. Julle kan dit sien aan die groot
letters wat ek maak.”

In Paulus se tyd het belangrike mense gewoonlik professionele
briefskrywers gehad aan wie hulle hul briewe gedikteer het. Maar
dit was ook wel die gebruik om die laaste paar reëls self te skryf.
So is bevestig dat jy wel die skrywer daarvan is. Hoekom skryf
Paulus in groot letters? Waarskynlik wil hy beklemtoon wat hy
skryf, en hy wil ook sy liefde vir hulle beklemtoon. Hierin leer ons
‘n belangrike lewensles by Paulus: Die egtheid van jou liefde word
ook gesien in die kleinste dingetjies wat jy vir hulle doen.
“Never neglect the little things, that soft word of praise or thanks,
that delivery of the very best that you can do. It is of prime
importance to never neglect doing the little things. It is your
“little random acts of love” that make people realise they are
special... to you.” – Anoniem.

Daar kan drie redes wees hoekom Paulus in groot letters skryf:
Eerste rede: Paulus vestig hiermee die aandag op die groot verskil in
skryfwyse tussen hom en sy sekretaris wat geskryf het terwyl hy dikteer.
Tweede rede: Die oorsaak kon oog-probleme wees, of dalk ‘n siekte.
Derde rede: Op die manier wil Paulus beklemtoon hoe belangrik dit is
wat hy nou gaan skryf.

Wat is die belangrike wat hy nou skryf in Galasiërs 6:12-18 en
waarmee hy afsluit?
Een: Dit is totaal onmoontlik om vryspraak van ons sonde te kry
deur menslike prestasies.
Twee: Die enigste manier om vryspraak te kry is deur geloof in
Jesus Christus.
Drie: Daarom het dit geen nut om te stry oor die rol van menslike
prestasies nie. Die wat in Jesus glo is in God se oë reeds nuut!
Vier: Hierdie nuwe mense is nou die nuwe volk van God. Hulle is
nou die ware Israel, al is hulle nie Jode nie.
Vyf: Dit is nie meer jy wat lewe nie, maar Christus wat in jou lewe!

Amen!

Ernest