Partykeer kry gelowiges dit reg om in die moeilikste omstandighede
denkbaar kop bo water te hou. Selfs swaarkry het dan ‘n positiewe
effek op hulle geloof. Maar die Bybel teken ook vir ons die ander kant
van geloof. Dit is die kant wat fokus op dinge soos bitterheid, opstand
en kleingeloof. Dit vlam op in gelowiges se lewe wanneer die snykante
van die lewe diep letsels op hulle laat. Ons kan maklik as gelowiges ‘n
vroom Christelike sousie oor die lewe gooi en dan praat ons net oor die
lekker opwindende dinge van geloof soos getuienislewering en geestelike
groei. Ons laat dan gerieflikheidshalwe omstrede temas weg soos bitterheid,
opstandigheid, en selfs ontevredenheid met God. Natuurlik word nou nie
hiermee godslastering en growwe ongeloof bedoel nie. Dit moet tog altyd
by gelowiges gaan oor God se eer en sy heilige Naam.

Maar die Bybel vertel ook van Godsmanne soos Jeremia en Job wat met
hulle geloof en al op rowwe paaie beland het. Hulle het by geleenthede so
swaar gekry dat selfs hulle geloof hulle nie gehelp het nie. So het hulle gevoel.
Ons is dankbaar en gelukkig dat God hierdie verhale laat opteken het in sy
Woord. Ons sien hiermee dat hulle ook mense was met vrees en twyfel,
soos ons soms ervaar. Hierdie verhale wys ook hoe die lig van lewe
uiteindelik weer in hulle lewe deurgebreek het.

Jeremia is een van die “swaargewigte” van die Ou Testament. Hy veg teen
Juda se oppervlakkige godsdiens. Dit maak hom baie ongewild. Op ‘n dag het
hy besluit genoeg is nou genoeg. Hy het sy “bedanking” by God ingedien.
Jeremia 15:18: “Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie, waarom is my
wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie,
net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie.” Harde woorde!
Aan God! Jeremia 15:10-18 deel sy redes met ons.
Hy kom tot die gevolgtrekking dat hy jammerlik misluk het. Sy hoorders skel
hom uit in plaas daarvan dat hulle hul bekeer. Sy prediking vervreem hom
van almal en niemand wil eers meer saam met hom kuier en lag nie. – vers 17.

Jeremia voel dat ook God hom in die steek laat. Dieselfde God op Wie hy
altyd vertrou het, het hom nou in ellende gedompel. So voel Jeremia.
In plaas van uitkoms en resultate kry Jeremia net mooi die teenoorgestelde.
In vers 18 kom hy tot die gevolgtrekking dat hy glad nie meer op God kan
reken nie.

Die verrassende is dat God hom selfs antwoord! Ons sou sommer God se
toorn en straf verwag. God aanvaar nie Jeremia se “bedanking” nie. In vers 19
sê God: “Trek terug jou woorde dan sal Ek jou weer gebruik.” Hiermee saam
gee God uitkoms! – verse 20-21. God gaan haal Jeremia daar waar hy ervaar
dat God het hom gelos het.

Geloof beteken nie dat jy heeltyd mooi broodjies met God bak nie.
Geloof is ook intense worsteling. God ken die verskil tussen mense wat
opreg na Hom soek en growwe ongeloof. Hy sal nooit iemand wegwys
wat eerlik met Hom worstel nie. Neem gerus jou diepste seerkry en
swaarkry na God toe. God sal jou nooit los nie. God gee intens om.
Jeremia het dit ook ervaar!

Ernest