As daar ooit ‘n vroom mens op aarde was, dan was dit Job.
Selfs God het so gesê in Job 1:8: “Sy gelyke kry jy nie op aarde nie:
hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad.”
Maar Satan het ‘n ander opinie. “Dit is net omdat dit so goed met
hom en sy familie gaan dat hy U dien.” – vers 10. God gee aan Satan
‘n “blanko tjek” om Job mee te toets, solank sy lewe nie in die gedrang
kom nie. Satan gryp dit natuurlik aan. Hy vernietig Job se rykdom, en ook
sy kinders sterf wreedaardig. Ten spyte hiervan het Job nie sy geloof
afgesweer nie. Vers 21: “Die Here het gegee en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.”
Satan daag God weer uit en wil Job se liggaam skade doen en kyk of Job
God nie sal vervloek nie. God aanvaar weereens die uitdaging. Pynlike
swere slaan oor Job uit. Hy het mismoedig op ‘n ashoop gaan sit. Steeds
vervloek hy nie vir God nie, al doen sy vrou dit.
Job was beslis ‘n vroom man. In die menslik moeilikste omstandighede
kyk hy steeds op na God. Maar hy aanvaar nie alles wat met hom gebeur
gelate nie. Hy tree vir die res van die boek Job in ernstige debat met God
oor sy lyding. Sy drie kwasi-vriende, Elifas, Bildad en Sofar wou hom
bemoedig met maklike antwoorde op alles...
Job omskep egter sy lyding in ‘n hofgeding met God! Hy plaas God in die
beskuldigde bank en hy bring die een aanklag na die ander na God. Hy
doen sy uiterste bes om God te dien, en wat kry hy? Swaarkry op swaarkry!
Job beweer op verskeie plekke dat hyself onskuldig is en eintlik ander
mense se belange op die hart dra. Armes, weduwees en weeskinders...
Hoekom moet hy dan nou ly? Sy vriende sê hy moes een of ander onreg
gedoen het... Hy moet maar sy trots in sy sak steek. Hy moet vir God gaan
jammer sê. Job wys dit skerp van die hand. Hy hou vol hy ly onskuldig!
Maar hiermee saam slinger hy ernstige beskuldigings in God se rigting.
God self skiet die brandpyle op hom af, redeneer hy in Job 6:4.
In Job 16:9 kom Job tot die gevolgtrekking dat God nou sy Teenstander
geword het! Die resultaat hiervan is dat Job nou op moedverloor se vlakte
sit. Job praat hard met God en sy eerlikheid het geen perke nie! As sy
woorde op ‘n ander plek as in die Bybel gestaan het, sou ons hom as
ongelowige brandmerk... En tog staan dit in die Bybel om te sê dat ons
eerlik en op die man af met God kan worstel. Dit wys ook dat Job nooit
sy rug op God gedraai het nie. Hy probeer nie van God af wegvlug nie,
maar worstel met Hom. En natuurlik was sy probleem God self!
Hy het hom as’t ware op God teen God beroep! Hy het nooit sy geloof
laat vaar nie. God bly nog steeds sy Losser – Job 19:25. Hy bly in vrees
en bewing voor God staan – 23:15-17. En hy wil Hom bly dien! – 28:28.
Wanneer die lewe jou die dag so hard slaan dat alles sinneloos word,
selfs ook jou verhouding met God, is dit nie kinderspeletjies nie. Daar is
ook nie maklike verklarings soos Job se vriende wou gee nie. Maar dan
moet jy juis met God bly worstel. God is reg daarvoor. Jy kan maar.
Al jou waaroms, hoekoms, verwyte en pyn, is nie te veel vir God nie.
God is groter as jou probleem!
Ernest