Na al die aanklagte teenoor God sou ons verwag dat God ook
met aanklagte reageer teenoor Job. Maar dit is tipies hoe ons dink.
God is egter nie ‘n mens nie. Van hoofstuk 38 af kom God met sy
verrassende reaksie. In plaas van ‘n lang lys van redes hoekom met
Job gebeur het wat met hom gebeur het, neem God vir Job op ‘n reis
deur sy skepping. Hy wys aan Job die ware God Self! God wys aan Job
dat hy nie eintlik insig in sy raadsplan het nie.
God se hart klop warm vir sy totale skepping. Hy neem Job op ’n “reis”
saam met Hom deur sy skepping. Die vraag is: Kan Job doen wat God
doen?! Het hy God se mag? Met hierdie vrae wys God aan Job dat hy
sy plek moet ken. Hy moet ook leer dat God die goeie God is! Hoe sou
die God van hierdie skepping ooit sy rug draai op die kroon van sy
skepping, sy kinders?
Job het gesnap wat God vir Hom wou sê. Job kry skaam oor hoe hy
teenoor God opgetree het. Job wys dan uiteindelik homself aan as
die skuldige in Job 42:3: “Wie is dit wat U bedoelings wou dwarsboom
sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie
begryp het nie: U wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie
verstaan nie.” Job staan verslae dat hy so ‘n gebrekkige insig in die
Skepper God het. God is egter nie kwaad vir Job nie. Hy straf hom nie.
Maar God is wel ontstig oor Job se vriende se goedkoop raad.
Juis daarmee het hulle nie die waarheid oor God gepraat nie.
Job het nooit antwoorde op sy vrae gevind nie. God het ook geen
redes aan Job gegee hoekom hy moes ly nie. God beklemtoon dit egter
dat dit nie straf teenoor Job was vir enige iets wat hy gedoen het nie.
Die belangrike is dat Job vir God op ‘n nuwe manier gevind het in al
hierdie worstelinge. Sy vrae, bitterheid en kleingeloof het soos mis
voor die son verdwyn.
Ons soek baie keer redes vir ons swaarkry. Ons moet onthou dat God
geen redes aan ons verskuldig is nie. Hy doen egter veel meer vir ons
as om net antwoorde aan ons te gee op ons vrae! Hy wys ook sy hart
aan ons! God draai nooit sy rug op sy kinders wat worstel in hierdie
lewe nie! Hy sal Hom láát vind deur die wat na Hom bly soek! Selfs al
gaan dit met groot swaarkry en lyding gepaard, soos met Job!
Bly worstel met God in jou eie lewe! Jy kan jou hart teenoor Hom
oopmaak, soos Job. En jy gaan Hom op ‘n nuwe manier leer ken,
soos Job.
Ernest