Matteus 5:27-28 sê:
“Julle ken ook die volgende wet:
“Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.”
Ek sê egter vandag vir julle,
dat slegte begeertes reeds in ‘n mens se kop begin,
nie in dit wat ‘n mens doen nie.”
Jesus sê hiermee dat dit wat jy dink,
gelykstaande is aan wat jy doen.
Descartes het al die beroemde aanhaling gesê:
“Ek dink, daarom is ek.”
Dit wat ek dink, bepaal hoe ek optree…
Jy kan nie een ding dink, en ‘n ander ding ervaar nie.
Jy kan net so min negatiewe of sondige goed dink,
en dan positief leef,…
as wat jy koring plant, en dan mielies oes.
Sewentig persent van ons “wakker” deel van die dag
word deurgebring deur een of ander vorm van kommunikasie.
Ongeveer 50 000 gedagtes per dag!
Geen gedagtes is regtig neutraal nie.
Daarom is die verleiding nie in die persoon voor ons nie,
selfs nie in hoe die persoon optree nie,
maar veral juis in hoe ons self daaroor dink!
Alfred Adler het gesê:
“Dit is baie voor die hand liggend dat ons nie net beïnvloed word deur feite nie,
maar veral deur ons interpretasie van die feite.”
Die “verleidelike” persoon is nie die primêre probleem nie,
dit is wat ons oor die persoon dink,
wat mooi of lelik, reg of verkeerd kan wees.
Vervang verkeerde gedagtes met goeie gedagtes.
Filippense 4:8 help ons,
om die fokus op die regte goed in jou lewe te plaas:
“….alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is,
alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is
– watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees –
daarop moet julle julle gedagtes rig.”
Marineer jou denke in hierdie waarheid van die Woord!
Ernest