Voel jy soms dat jou geloof nou net mooi genoeg getoets is deur God?
Die Here behoort tog teen hierdie tyd te weet dat jy regtig ‘n volgeling
van Hom is. Waarom is daar dan soveel stilte van die hemel se kant af?
Daar is baie uiteenlopende redes waarom mense by geleentheid die rug
op God begin keer in terme van hulle geloof. Dit kan sonde wees wat jou
eenvoudig meesleur. Dit kan teleurstelling wees dat jou geloof te min
“resultate” oplewer. Daar kan nog meer redes wees...
Jesus was terdeë bewus daarvan en vertel toe op ‘n dag drie gelykenisse
hieroor in Lukas 15 oor die verlore skaap, die verlore muntstuk en die
verlore seun. In die gelykenis van die verlore seun vertel Jesus die verhaal
van die seun wat sy erfporsie by sy pa gaan haal en op ‘n ander plek wil
gaan leef sonder inmenging van sy pa. Hy vat die pad na die wêreld en sy
plesiere toe. Dinge werk toe nie uit soos hy gedink het nie.
Uiteindelik land hy op ‘n boer se plaas en pas varke op... kan jy dink...
‘n Jood wat varke oppas!
Hy het hom teruggehaas na sy pa, en wat ‘n wonderlike verrassing wag
op hom as hy daar aankom. Sy pa ontvang hom met liefde en ope arms
en slag die beste kalf op die plaas.
Jesus illustreer hiermee die aard van God! Jesus wys hiermee dat God
nie sy kinders afskryf wat hulle rug op Hom draai nie. God het duur vir
hulle betaal. God loop op die spoor van sy verlore skape om hulle terug
te bring. En soos ‘n vrou wat aanhou soek na haar verlore geldstuk,
soek God totdat Hy sy kosbare besitting terugkry. En natuurlik word
daar dan fees gevier! Wanneer een van God se kinders terugkom,
is daar fees in die hemel.
Wanneer ons in ons geloof worstel met swaar dinge in ons lewe,
en dit voel asof ons boedel... geloof... wil oorgee, dan moet ons besef
ons is nog net so hoog op God se agenda. Ons skuif nooit af op God se
agenda nie! Net God kan dit doen... en vir nét God is almal regtig ewe
belangrik! God skryf nooit sy kinders af wat moedeloos en kleingelowig
geword het nie. God draai nooit sy rug op sy kinders wat in die vangnet
van sonde verstrengel geraak het nie! Geen probleem in ons lewe,
hoe groot dit ookal vir ons mag lyk nie, is vir God te groot nie!
Hy bly deur die Heilige Gees op ons spoor en bly met ons werk soos
met klei in die hand. Hy bly aan ons vorm om ons weer by sy feesmaal
te kry!
God bly lewenslank met ons onderweg na sy einddoel met ons,
nadat ons ons lewe aan Jesus oorgegee het!
Hou vas hieraan in jou moeilikste tye!
Ernest