Ons moderne samelewing is hoofsaaklik op die uiterlike ingestem.
Ons fokus op tegnologiese vernuf, kennis en vaardighede. Letterlik
alles wat ons sien of ervaar is daarop ingestem om ons lewe makliker
te maak. Die mens word egter in hierdie hele proses van homself
vervreem. In plaas daarvan dat ons gelukkig en tevrede is, is ons
oorwerk, oorspanne en lewensmoeg. Hierdie klem op die uiterlike
wêreld veroorsaak dat mense afstomp. Die slegte is dat dit ook
gelowiges oorkom. Ons is ook meer besorg oor ons begroting en
of ons vakansie sal kan realiseer as oor derduisende mense wat nog
daarna smag om God se Woord te hoor.
Hoeveel keer het ons nie al met ‘n skok agtergekom dat ons soveel
meer tyd spandeer aan ons uiterlike lewe as aan ons innerlike lewe nie!
Dit is bykans nie vergelykbaar nie. Ons kom eenvoudig bitter min uit
by ons innerlike lewe.
Gelukkig kan ons met die lees van hierdie boodskap net weer besef dat
daar vir ons ‘n innerlike kant van die lewe is waar die Heilige Gees
werksaam is. Hoe kan ons nou prakties hieraan aandag gee? Hoe kan
ons so leef in hierdie harde wêreld dat ons innerlike vrede met God het?
In Kolossense 3:1-2 deel Paulus ten minste een belangrike waarheid met
ons hieroor: “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is,
moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die
regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is,
nie op die dinge wat op die aarde is nie...”
Ons moet regtig leer om ons gedagtes op Christus te rig. Ons moet ons
geestelike sintuie reg instel deur dit deurentyd op Christus te vestig.
Natuurlik is dit nie maklik nie. Die harde werklikheid van die lewe waarin
ons daagliks leef maak dat ons soms so besig met die uiterlike dinge raak
dat ons later nie meer tyd of energie vir die Here het nie!
Ons leef eenvoudig by Hom verby en later “sonder” Hom.
Ons is net te besig vir God!
Die beste manier om weer ons innerlike lewe onder beheer te kry is om
ons menswees weer op Christus te rig. Ons moet doelbewus met die
Woord besig raak sodat die Heilige Gees deur die Woord met ons besig
kan wees! Ons moet doelbewus stil raak in God se teenwoordigheid.
Doelbewus tyd daaraan afstaan.
Soos wat ons al hoe meer tyd saam met ons Vader in die hemel deurbring,
in Jesus en deur die Heilige Gees, sal die wonder ook begin plaasvind dat
ons lewe meer spontaan om die Here sal begin draai! Dit sal ons innerlike
met ongekende vreugde vul!
Dit is deur en deur die moeite werd om God op hierdie punt te gaan toets.
Oefen jouself deur jou gedagtes al hoe meer op Hom te rig. Die lewe sal
vir jou verander van “nag” na “dag”!
Ernest