Die vooruitgang van ons moderne samelewing het die sin van
die lewe al hoe meer aan die uiterlike dinge vasgemaak. Die
eenvoud van die lewe het plek gemaak vir ‘n komplekse bestaan
met ‘n groot klomp uiterlike simbole van status en welvaart.
In die tyd toe die skrywer van die boek Prediker geleef het, het die
mense ook allerhande maatstawwe gehad om sukses aan te meet.
Hy het self vir ‘n lang tyd in sy lewe die een ding na die ander uitprobeer
in sy soeke na die sin van die lewe. Op ‘n dag het hy intens gaan nadink
oor alles. Hy het tot ‘n skokkende ontdekking gekom.
Hy vertel in Prediker 1:12-18 dat hy baie mag besit het, en alles gehad
het wat hy begeer het. En tog het hy nie vrede met sy lewe gehad nie.
Niks het hom meer tevrede gemaak nie. In vers 14 skryf hy: “Ek het alles
wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk: alles kom tot niks, dit is ‘n gejaag
na wind.” Hy het ook gedink sy groot kennis en insig sou hom betekenis
in die lewe gee. Dit het nie. Sy wysheid het hoë eise aan hom gestel maar
het hom net smart op die hals gehaal – vers 18. Die wyse kom maar net
soos die dwaas tot sterwe...
Hy stuur toe sy lewe in die teenoorgestelde rigting en kyk wat lê daar.
Hy gaan geniet hom toe voluit in alles wat plesier en feesvierings kan bied.
Maar ook dit het nie geluk gewaarborg nie. Die glans-bestaan bied niks
blywend nie. Toe besluit hy om groot geld te gaan maak. Hy het reuse
ondernemings aangepak – 2:4-10. Ook dit, het hy gevind, was ‘n gejaag
na wind. Hy het toe besluit dat alles in die lewe tot niks kom – 2:17.
Dit het hom in sak en as laat sit. Hy het selfs die lewe begin haat – 2:17.
Bogenoemde klink omtrent soos die sepies van ons tyd. En dit is hoe baie,
indien nie die totale meerderheid van mense nie, se lewens uiteindelik
verloop. Mense jaag steeds die droom van uiterlike sukses. En ten spyte
van die swak resultate in terme van innerlike menswees, bly ons dit jaag!
Slagoffers lê in hulle miljoene langs die pad van hierdie lewenswyse, en tog
glo ons alles wat bemarking in ons kele afdwing. Ten spyte van die Woord
van God wat mense oproep om nie op hierdie pad te volhard nie, omdat dit
na die doderyk lei, stroom mense sonder ophou voort op hierdie sinnelose
pad!
Dit kos regtig moed om in God te glo in ‘n wêreld wat vol is van sy eie gode
van sukses en welvaart. Dit vra ‘n toegewyde geloofslewe om nie deur die
waardes van die wêreld ingesluk te word nie. Saam met die Prediker moet
ons vandag opnuut ontdek dat die sin van die lewe nie in die dinge van die
wêreld opgesluit lê nie! Dit is regtig alles ‘n gejaag na wind!
Sit vandag jou hand in God se hand sodat Hy jou verby al die wêreld se
afdraai paaie lei. Leef nou vir die innerlike ware lewe saam met God!
Doen dit nou! Doen dit net!
Ernest