Franz Schubert het baie simfonieë geskryf. Hy het egter nooit gedink
hy sou nie sy simfonie nommer 8 klaarmaak nie. Hy het nie. Toe hy
jonk op 31 jarige leeftyd gesterf het, was hierdie werk van hom nog
onvoltooid. En niemand kon dit ooit vir hom voltooi nie omdat niemand
geweet het hoe hy dit wou laat eindig nie. Tog is ons baie bly dat hy dit
begin het, want vandag is dit een van sy populêrste simfonieë.
Dit staan ook juis bekend as die “Onvoltooide Simfonie.”

Wanneer ons oor ons eie lewe dink, dan dink ons ook nie eintlik aan wat
ons sal klaarmaak en wat nie. Veral nie as ons so jonk is as wat Franz
Schubert was nie. Daar gaan verseker dinge in ons lewe wees waarmee
ons nie “klaargemaak” het nie.

Maar vir gelowiges is daar in hierdie verband ‘n wonderlike wete en
sekerheid ten opsigte van ons verhouding met die Here en ons lewe saam
met Hom en vir Hom. Dit is die wonderlike boodskap wat Filippense 1:6
vir ons gee:
“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het,
dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.”
Die Boodskap vertaal dit so: “Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie
goeie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag
wanneer Christus Jesus weer kom. Hy sal julle nooit in die steek laat nie,
daarvan kan julle seker wees.”

Dit is duidelik: Dit is nie die Filippense se eie goedheid wat hulle so suksesvol
maak nie, maar God! God sal sy goeie werk wat Hy in ons begin het self klaarmaak.
God se werk vír ons het begin toe Christus aan die kruis gesterf het, en Hy sodoende
die skuld vir ons sonde betaal het. God se werk ín ons begin wanneer die Heilige
Gees in ons kom woon en die bekering bewerk. Hy verander ons eie wil sodat ons
al hoe meer doen wat God wil hê. Hierdie proses van geestelike volwasse-wording
duur voort totdat Jesus weer kom!

Jy sal weet hoe dit dikwels voel asof daar net geen vordering in jou geestelike
lewe is nie. Hier kry jy nou die versekering dat God alles wat Hy aanpak sal voltooi!
God sal ook in jóú lewe werk en jou laat groei in die genade totdat Hy sy werk
in jou lewe voleindig het. Dit maak ‘n onblusbare blydskap in jou wakker die dag
as jy dit snap en uit hierdie genade van God begin leef!

Ernest