Filippense 1:6,10: “Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie
goeie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op
die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Dan sal julle altyd die beste
keuses kan maak. Dit sal sorg dat wanneer Jesus weer kom, niemand
‘n vinger na julle sal kan wys en julle van swakhede beskuldig nie. In
alles wat julle doen, sal mense kan sien dat julle verhouding met God
reg is.” Paulus noem die wederkoms twee keer in hierdie twee verse.
Let op: God sal goeie dinge met ons laat gebeur totdat Jesus weer kom.
Dit help ons baie om vanuit die realiteit van die wederkoms van Christus
te leef!
Wat moet ons doen om gereed te wees? Vers 9 sê ons liefde moet al hoe
meer toeneem in begrip. As ons mekaar liefhet, sal almal weet God is liefde
en Hy het sy Seun na ons gestuur om ons lewens radikaal nuut te maak.
Wat beteken “in begrip”? Dit beteken dat ons God se Woord gereeld sal
lees en daaruit leer hoe die liefde werk. Die Bybel gee ons perspektief op
die lewe wat God wil hê ons moet leef. Wil jy weet hoé om vir God te leef?
Lees die Bybel. Begrip is die insig in God se verlossingsplan. Wanneer die
begrip daar is lei dit tot groter dankbaarheid.
Ons liefde moet ook al hoe meer toeneem in fyn aanvoeling.
Wanneer ons besef dat God ons liefhet en dat Hy self ‘n fyn aanvoeling
het vir ons behoeftes, dan raak ons ook sensitief vir ander mense se behoeftes.
Fyn aanvoeling beteken om te besef ons is almal die beeld van God. Dit is veral
ook die vermoë om in elke situasie skerp te onderskei tussen goed en sleg, en
belangrik en onbelangrik. Liefde sonder fyn aanvoeling kan meer skade doen
as goed. Daarom: dit moet gedra word deur fyn aanvoeling.
Vers 10 sê ons sal met die wederkoms onberispelik en sonder blaam wees.
Ons sal deur Christus geheel en al in die regte verhouding met God wees,
tot sy lof en eer.
Wat leer ons uit verse 9-11? Ons het liefde, maar dit moet toeneem!
Dit moet toeneem in begrip en fyn aanvoeling. Dit is wat Paulus vir die
Filippense bid! Hy vermaan nie, maar bid daarvoor! Ons moet ook intens
daarvoor bid ten opsigte van ons eie lewe vir die Here en saam met die Here.
Ernest