Laat jou ja ja wees, en jou nee nee!
“Sê net ja, en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit.
As julle enige iets meer as dit sê om te wys julle praat die waarheid,
doen julle verkeerd.
Dan praat julle nie soos God wil hê julle moet praat nie.” Matteus 5:37.
Wat bedoel Jesus met hierdie woorde van Hom?
Dit:
Laat jou binnekant met jou buitekant klop.
Laat jou belydenis klop met jou lewe.
Laat mense altyd weet jou ja is jou ja,
en jou nee is jou nee.
As jy ‘n belofte maak, hou dit!
Ons haas ons om beloftes te maak,
en dan is ons baie traag in die uitvoering daarvan.
Die wat die stadigste is om beloftes te maak,
is gewoonlik die betroubaarste om dit uit te voer.
Iemand moes namens sy baas sê die baas is nie daar nie,
as kliënte hom kom soek.
“Beplan u om iewers heen te gaan?”, wou die werknemer weet.
“Nee, sê net ek is nie hier nie!”
“Ekskuus meneer, wil u hê ek moet namens u lieg?”
Die baas was woedend.
Die werknemer het ‘n kort skietgebed opgestuur,
en onder leiding van die Heilige Gees geantwoord:
“U moet gelukkig voel meneer,
want as ek nie namens u sal lieg nie,
kan u verseker weet dat ek nooit vir u sal lieg nie!”
Die baas was verleë, en dankbaar.
Jy staan op jou geloofsbeginsels.
Jy staan ook op die Here se krag.
Daarom val jy nie vir enige iets of iemand nie.
Jou ja is jou ja, en jou nee is jou nee.
Ernest