Dit is waaroor dit gaan. Om te lewe. Om in Christus te lewe.
Om vir Christus te lewe. Paulus sê in Filippense 1:20-21:
“... Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid
deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,
want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”
Paulus sit in haglike omstandighede in die tronk wanneer hy hierdie
woorde skryf. En in die tronk maak hy steeds planne vir die toekoms.
Want sy lewe eindig nie in die tronk nie.
Charles Mayes het gesê: “Make sure the thing you’re living for,
is worth dying for.” Hierdie bogenoemde Filippense teks gee vir jou
‘n rede wat die lewe absoluut die moeite werd maak. Inteendeel:
Dit alleen is die sin van die lewe! “Om te lewe is vir my Christus!”
Vir ongelowiges is hierdie lewe al wat daar is. Daarom is dit natuurlik
dat hulle tydelike dinge soos geld, gewildheid, mag en plesier sal najaag.
Vir kinders van die Here hou die lewe egter baie meer in. Ons wil die
dinge doen wat ewigheids waarde het. Dit is wat Paulus hier beklemtoon.
Net Jesus Christus en die lewe in Hom stel jou in staat om ewigheids
perspektief te hê en dit ook uit te leef. Daarom is ons lewensdoel nou
om met vrymoedigheid en vreesloos vir Jesus Christus te leef, om Hom
te getuig, en om meer en meer soos Hy te leef! Ons is só op Christus
gerig dat ons ook soos Paulus kan getuig dat om in en vir Christus te
sterf vir ons net so goed is as om in Hom en vir Hom te leef!
As ‘n mens nie gereed is om te sterf nie, is jy eintlik ook nie gereed
om te leef nie! Dink weer mooi daaroor...
Eers as jy weet wat God se pad met jou lewe is, is jy regtig vry om
te leef en te dien. En daardie pad is die pad in Christus!
Dan eers kan jy jou hele lewe wy aan dit wat regtig saak maak.
En jy is nie bang vir die dood nie...!
Ernest