FILIPPENSE 2:8: “... Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.”
Die Boodskap vertaal vers 8 so: “As mens onder mense het
Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom
uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ‘n vernedering!
God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering
gehoorsaam enduit geloop.”
Gehoorsaam enduit geloop...
Wat vra gehoorsaamheid aan God van ons? Wat is ons bereid om
te doen, prys te gee? Hoe vêr is ons bereid om te gaan? Kyk net wat
doen Christus in terme van gehoorsaamheid aan God:
Hy verneder Homself tot op die vlak van ‘n mens, wat ‘n
dienskneg word, en dan uiteindelik sterf soos ‘n misdadiger!
God het na ons toe “afgekom” as Jesus. Hy het namens ons gesterf.
In ons plek. Ter wille van ons. Hy het ons rekening, wat onberekenbaar
diep in die skuld was, vir ons skoongemaak, sodat ons weer mense kan
wees soos God dit bedoel het! Dit is gehoorsaamheid!
Dit is Gehoorsaamheid wat daar aan die kruis hang vir ons!
Sal ons ook gehoorsaam wees aan God? In Christus? Deur die Gees?
Oswald Chambers het gesê: “Die hoogste maatstaf vir
spiritualiteit is nie ekstase nie, maar gehoorsaamheid!”
Daar lê ‘n groot gevaar in ‘n gemaklike godsdienstige gerustheid,
wat God eerbiedloos benader, sodat ons verwondering oor God
verdwyn, en saam met dit ook ons gehoorsaamheid verdwyn.
Kom ons dink weer diep na oor ons gehoorsaamheid aan God....
Ernest