“Doen alles sonder om te kla of te stry. Dan sal niemand julle
kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie.
Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie – al bly julle
tussen mense wat korrup en sonder gewete is. Juis tussen hulle
moet julle soos helder ligte in ‘n donker wêreld skyn. Vir hierdie
mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel
sodat hulle ook die ware lewe kan kry...” – Filippense 2:14-16.
Dit is regtig sleg dat ons as gelowiges so baie kan kla ten spyte
van die realiteit van nuwe mense in Christus te wees! Wanneer
ons ook in die geselskap is van mense wat heeltyd kla, maak dit
ons lam. Paulus skryf hier dat Christene nie klakouse is nie.
Dit pas eenvoudig nie by ‘n kind van God wie se lewe deur
dankbaarheid gekenmerk moet word nie. Die teenvoeter vir kla
is om daagliks in dankbaarheid jou seëninge te oordink en God
daarvoor te dank, uit jou hart, in opregtheid. Dit sal jou groot
perspektief gee, jou positief maak en jou jou klaery laat sluk.
Hou gou gebeur dit nie in ons gesprekke rondom ‘n braaivleisvuur
of aan tafel, of saam met vriende oor ‘n koffie dat ons eenvoudig
die een meer as die ander “probeer” kla nie.
Tel jou seëninge met dankbaarheid en hou op kla!
Paulus koppel dit ook in bogenoemde teks aan ons getuienis as
kinders van die Here! As ons ophou kla, sal niemand oor óns as
kinders van God kan kla nie. Juis tussen mense wat nie kinders
van God is nie, moet ons soos helder ligte in ‘n donker wêreld skyn.
Daarom moet ons nie sóós hulle, sáám met hulle, kla nie! Ons moet
die getuienis uitleef van wat dit beteken om nuwe mense in Christus
te wees. Vir hierdie mense in geestelike donker moet ons dankbaar
ons getuienis in Christus uitleef sodat hulle ook die ware lewe kan kry!
Hou op kla! In Christus is jy ‘n nuwe mens!
Ernest