Daar is eenvoudig niks wat hoër is in waarde as om
Christus te ken nie! Paulus beskryf alles wat vir hom
waardevol was: “Ek is op die agste dag besny, van geboorte
‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting
was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding
van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.” – Fil. 3:5-6.
Paulus het baie in sy lewe vermag en hy het baie om op trots te wees.
Sy agtergrond. Sy prestasies. Sy voldoening aan streng godsdienstige
vereistes. Sy afstamming. Sy stand.
Al hierdie dinge word nie net waardeloos nie, maar verwerplik, wanneer
jy dit as die basis van redding begin beskou en jouself daarvoor op die
skouer klop. Paulus beklemtoon dit met vers 7: “Maar wat eers vir my
‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos...” Alles is nou waardeloos
in vergelyking met die voorreg om Jesus Christus te ken! – vers 8.
Jou verhouding met Jesus Christus word eenvoudig belangriker as
enige iets anders in hierdie lewe!
Paulus sê in vers 8: “...ek beskou alles as waardeloos, want om
Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille
van Hom het ek alles prysgegee.” Die rede hoekom Paulus alles wat
vir hom waardevol was prysgegee het, staan in vers 8:
Dit verdring Christus! Hy het dit alle prysgegee ter wille van Christus!
Al die dinge wat vir jou belangriker is as Christus maak dat jy nie
Christus Jesus jou Here kén nie. Dat jy nie ‘n lewende persoonlike
verhouding met Hom het nie. Jy laat nie jou gedrag deur Hom bepaal
nie. Hy is nie die Here van jou lewe nie.
Jy moet as gelowige die bewuste besluit neem: Ek gee alles prys en
beskou dit as waardeloos, einde vers 8 en begin vers 9, sodat
ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees!
In vers 10 sê Paulus: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag
van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan
Hom gelyk te word in sy dood.”
Ken beteken nie om dinge van Jesus te weet of te ken nie,
maar om Jesus sélf te ken! Mag dit ons grootste wens wees,
ons alles-oortreffende wens, om Christus te kén!
Ernest