Dikwels vra ons die vraag: “Waarom Here?”

As ons die Here werklik in hierdie diepste noodvrae wil leer vertrou,
dan moet ons doodeerlik met Hom kan wees.
Ons moet eerlik met Hom wees oor wat ons voel, en waardeer ons gaan.
Ons moet, soos ‘n Job, eerlik met Hom “redeneer”,
ons hart eerlik oopmaak oor hoe ons voel.
Dit help nie om ontkennend voor die Here te staan,
omdat jy bang is oor sy reaksie op jou gevoel nie,
of omdat jy dink jy mag nie so voel nie.

Wees eerlik met die Here oor hoe jy voel, en waardeur jy gaan,
wetende “die Hoëpriester wat ons het,
is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie.
Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp,
maar Hy het nie gesondig nie.” Hebreërs 4:15.

Ons moet glo dat God groter is as ons hartseer, twyfel en vrese,
en dat Hy regtig verstaan, liefhet en omgee.
Hy het sy eie Seun ‘n onskuldige dood laat sterf,
wat Hom ondenkbare pyn moes laat ervaar het!
Juis omdat Hy soveel omgee en liefhet!
Wanneer ons wêreld in twee skeur,
moet ons na Hom toe draai vir sy omgee, begrip en troos.
Ons kan eintlik net na Hom toe draai,
want dit is Hy self wat ook deur medegelowiges na ons toe kom.

God is groot genoeg om enige vraag van ons te hanteer.
Maar ons moet klein genoeg bly om die antwoord te hoor.
Hy praat dikwels in ‘n fluisterstem.
Soek te midde van jou seer, twyfel en onsekerheid na sy antwoord.
Al is dit nie die antwoord wat jy verwag nie.

Ann Voskamp skryf in haar boek, One Thousand Gifts:
“Die daad om jou dankoffer vir God te bring – om dankie te sê –
selfs vir die brood en beker van lyding, vir die kanker en die kruis –
dit berei die weg voor vir God om sy volkome redding van verbitterde,
kwaai, afgunstige lewens aan ons te openbaar.”

“Christus breek Sy hart om ons s’n heel te maak –
Christus, die volkome voltooiing van ons redding.”

Uiteindelik is dit dié genade –
hierdie moeilike ding van dankbaar nader tot God,
selfs in die heel moeilikste omstandighede –
wat ons behoud is.
Kom na Hom toe.
Laat Hy jou krag gee na liggaam, siel en gees.

Ernest