Filippense 3:20-21: “Hoe anders is ons nie!
Wat vir ons saak maak, is die hemelse dinge.
Daar lê ons ware vaderland. Uit daardie vaderland sal ons
Redder kom. Uit die hemel verwag ons ons Here, Jesus Christus.
Hy gaan ons swak menslike liggaam verander. Hy gaan ons liggaam
nuut maak soos sy liggaam is na sy opstanding, verhewe en heerlik.
Hy sal dit doen omdat Hy baie sterk is, want sy krag oortref alle
ander krag. Wat Hy wil, dit kan Hy doen.”

Hoe anders is die kinders van die Here nie! Hoe anders is ons nie!
‘n Ondersoek oor die vroeë kerk het bevind dat die geheim was dat
hulle soos ‘n familie gefunksioneer het. Hulle het gewoonlik nie berge
versit om te evangeliseer nie. Maar daar was iets omtrent hulle en
rondom hulle wat eenvoudig mense na die Here toe getrek het,
bloot deur die manier hoe hulle daagliks geleef het. Hulle het nie
selfsugtige lewens gelei nie. Hulle lewens was vol liefde vir mekaar
en selfs vir hulle medemens. Hulle lewens het die geur van liefde
afgegee oral waar hulle beweeg en leef.

Wanneer ons so leef, verkondig ons die liefde en die kruis van Jesus.
Dan verteenwoordig ons ‘n hemelse koninkryk in hierdie wêreld.
Paulus sê dat Christene se doel is om elke dag oor die hemel te dink,
en dit nou al vir die mense rondom jou ‘n stukkie hemel op aarde te
maak. Jou lewe vertel in watter rigting jy beweeg.

Iemand sê tong in die kies: “As jy nie gereeld in die duiwel vashardloop nie,
is dit omdat julle twee in dieselfde rigting hardloop. Wanneer ons “anders”
as die wêreld leef, wanneer ons leef as verteenwoordigers van die Here,
doelbewus elke dag só leef, dan sal ons gereeld in die duiwel vashardloop.
“Hoe anders is ons nie!...” – Filippense 3:20.

Ernest