Filippense 4:4: “Julle hart behoort oor te loop van blydskap
omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie
bly wees.” Die 1983 vertaling sê: “Wees altyd bly in die Here!
Ek herhaal: Wees bly!” Let net op die inhoud van hierdie vers:
Ons blydskap is moontlik omdat dit “in die Here” is! Daarom
kan ons áltyd bly wees! En dan die bevestiging: “Ek herhaal:
Wees bly!” Let net op die uitroeptekens!
Dit is asof Paulus dit nie kan oorbeklemtoon nie. Christene kan
nooit hulle blydskap verloor nie, want ons kan nooit vir Jesus
verloor nie! Jy ervaar volkome blydskap wanneer jy wéét dat
Christus in jou is!

Vreugde is een van die onfeilbaarste tekens van God se
teenwoordigheid! Geen wonder nie dat The Word on the Street
dit so beklemtoon: “Celebrate the Lord! I’ll copy and paste that –
this time in bold: Celebrate the Lord!”

Vers 5 gaan verder: Daarom... “Wees inskiklik teenoor alle mense.
Die Here is naby.” Die NIV vertaal so:
“Let your gentleness be evident to all. The Lord is near.”
Met Christus se nabyheid, en ook met sy terugkeer, sal jy die volle
impak van hierdie blydskap ten volle ervaar. As jy dit weet sal dit
nie vir jou swaar wees om inskiklik te wees, en so die eensgesindheid
te bevorder nie.

“Die Here is naby” kan waarskynlik twee dinge beteken:
Jesus is op pad terug. Hy is heeltyd “komende”! Leef asof Hy netnou
hier gaan wees! Of:
Jesus is naby, want Hy is óral!
Hou jou oë gefokus op Jesus, en dit verander jou hele lewe!
Hoe jy nóú hier lewe! In die lig hiervan kan ons nie anders as om inskiklik
teenoor alle mense te lewe nie. Om met sagte oë na almal te kyk. Moenie
mense op sigwaarde hanteer of beoordeel nie. Alle mense gaan by
geleentheid deur harde stryd in hierdie lewe. Ons ken nie altyd die
geskiedenis van die persoon met wie ons te doen kry nie... swaarkry en
seerkry waarvan ons geen idee het nie. Kyk met sagte oë en
verteenwoordig die Here by mense. Doen dit met vreugde.

Ernest