Filippense 4:6-7 is een van die kragtigste riglyne in die Woord
van God om prakties uit te leef in jou verhouding met God:
“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes
deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die
vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en
gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Regtig!? Is dit regtig moontlik om oor niks besorg te wees nie?
Ja dit is moontlik, wanneer jy die tweede deel van die vers regtig ter
harte neem en dit uitleef. Om dit nóg beter te verstaan, kyk net na die
vertaling van Die Boodskap:
“Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God
daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan
vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet.
Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan
verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus
behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie.”
Stel jou voor hoe dit moet wees om nooit oor enige iets bekommerd te
wees nie! Dit klink onmoontlik. Elke mens bekommer hom immers oor iets...
Tog sê Paulus hiermee dat jy jou bekommernisse in gebede moet omskep.
Bekommer minder en bid meer! Of is dit andersom... Bid meer en bekommer
minder! Roep halt en gaan sit by God! Dán kom jy agter hoe God se vrede oor
jou hart en gedagtes die wag hou! – vers 7.
Hierdie vrede is anders as die wêreld se vrede (Joh. 14:27). Hierdie vrede kry
jy nie deur jou daarop in te stel nie. Dit beteken ook nie maar net die afwesigheid
van konflik of dat dit ‘n salige gevoel is nie. Nee. Jy het ware vrede wanneer jy
telkens weer besef dat die Here in beheer is, dat jy in sy hand is, en dat jou
oorwinning in Hom vasstaan!
Eintlik moet ons dit eenvoudig net weer uitspel,
soos Die Boodskap dit baie eenvoudig vertaal:
Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie.
Gaan praat met God daaroor.
Bespreek dit opreg met Hom.
Vertel Hom, hoe jý daaroor voel.
Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat.
Sê ook vir Hom dankie dat jy weet dat Hy die beste weet!
Jy sal dan verlig en tevrede voel.
Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of
wetenskaplik kan uitlê nie.
Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort,
sal jy nie meer omgekrap vol nie.
Amen!
Ernest