Habakuk 3:17-18: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar
geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes
misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen
kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder
beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God,
my Redder.”
God nooi ons om in die uiterste moeilike omstandighede in Hom
te bly glo! God kan regtig ingryp wanneer omstandighede menslik
onmoontlik lyk vir ons. Habakuk beskryf dit in bogenoemde teks.
In die moeilikste omstandighede is die Here óók daar!
In Habakuk se tyd het die een ramp na die ander die volk getref.
Dit het mense se geloof tot die uiterste beproef. Habakuk, die profeet,
het nie opgehou om die volk te bemoedig nie. Hy het met hoop in sy
hart bly leef omdat hy God geken het! Selfs in die grootste oormag van
twyfel en wanhoop het hy bly glo. Habakuk het werklik geglo en dit
uitgeleef dat God groter is as sy omstandighede.
Dit het hom laat jubel in die Here!
Wanneer jy jou oog op God ingestel het, raak selfs die moeilikste
omstandighede draaglik. Dan maak al die uiterlike dinge waaraan
mense soveel waarde heg naderhand nie meer saak nie. Dan verheug
jy jou oor die God wat liefde is en wat in alle omstandighede nog steeds
die God van liefde bly! Jou geloof word jou bron van hoop en krag!
God self word jou krag! God self laat jou soos ‘n ribbok loop op die
heel hoogste plekke... veilig!
Die enigste troos in hierdie lewe is dat ons aan die drie-enige God
behoort! God hou ons staande teen die grootste oormag. God se
teenwoordigheid by ons hang nie af van gunstige omstandighede nie!
In die ergste omstandighede is God ewe veel by ons teenwoordig,
en ewe veel met ons besig! In liefde en genade!
Ernest