2 Timoteus 4:7-8: “Ek het die goeie wedloop afgelê;
ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit
volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my,
die lewe by God.”

Ons hoor so dikwels die vraag: “Wat hou die toekoms vir ons in?”
Onsekerhede en vrese? Eintlik moet ons nie as kinders van God
oor-behep wees met die toekoms nie. Die toekoms behoort immers
aan God! Ons moet juis in die nóú elke oomblik tot ons beskikking
aangryp om dit voluit vir God leef! Aan die ander kant kan ons ook
nie maak asof daar gladnie ‘n toekoms is nie. Dit sou onverantwoordelik
wees. Ons wêreld is egter nie op ‘n glybaan op pad na nêrens nie!
God het reeds die laaste bladsye van die wêreldgeskiedenis geskryf!
God is in beheer en op pad daarmee. En hierdie geskiedenis is nie ‘n
geheim nie, maar staan oop en bloot geskryf in die bladsye van die Bybel.

Bo en behalwe dat God gesê het dat die geskiedenis met ‘n groot
oorwinning vir Hom en die kerk van die Here Jesus afsluit, het Hy boonop
in die Bybel vir ons kom sê dat ook ons eie sterwe glad nie vir Hom ‘n
probleem is nie. Al is dit voor die wederkoms! Dit is waaroor Paulus in
bogenoemde teks skryf. Paulus weet dat jou toekoms as gelowige by God
veilig is. As daar een boodskap is waaroor die Bybel baie duidelik is,
dan is dit dat God nooit halwe werk doen nie, met eerbied gesê.
Wanneer Hy ons uit die greep van die sonde en die dood verlos,
doen Hy dit volledig! Hy gee die ewige lewe, verniet en vir altyd!
Nog Satan, nog swaarkry of pyn, nog die sonde of die dood kan ons
uit God se hand ruk nie.

Ook by die dood sal Christus steeds by ons wees. Dan gee Hy aan
ons die hemelse prys. Die oorwinnaarskroon. Die lewe by God.
Waarom sal ons dus vir die toekoms bang wees? Waarom sal ons
leef soos mense wat nie ‘n toekoms het nie? Sal ons nie nou die
moed openbaar om die toekoms vreesloos in te gaan nie!?
Ons swak hand in die almagtige hand van God!
Die toekoms behoort aan God alleen!

Ernest