Hoe kry mens dit reg om ander lief te hê?
Veral die wat nors en suur met jou is?
Die wat jou irriteer, te na kom en beskinder?
Ons sukkel!

Die Woord sê in 1 Korintiërs 13:4-6:
“Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel
wat jou irriteer nie…. om nie ongeskik te wees nie….
om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie….
om ander mense dit wat hulle het of kry te gun…
om nie sommer vir niks kwaad te word nie….
om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou,
sodat jy hom kan terugkry nie.”

‘n Mens kan en moet inderdaad leer om lief te hê.
Dit is ‘n wilsbesluit.
Die beginpunt is om te besef dat God jou liefhet,
ten spyte van wie jy is.
Hy het dit reeds aan die kruis vir jou kom bewys.
Hy omring jou steeds elke dag met sy liefde.
Jy moet dit nie net weet nie. Dis nie net ‘n kopding nie.
Jy moet dit met jou hele hart glo.
God het jou onvoorwaardelik lief.

Al het slegte dinge met jou gebeur, of al kry jy baie swaar,
God het jou lief!
Die Heilige Gees oortuig jou hiervan,
en uiteindelik moet jy God liefhê.
Dít, jou liefde vir God, laat jou Hom gehoorsaam!
Jesus het self in Johannes 14:15 gesê:
“As julle My liefhet, wys dit deur te doen wat Ek vra.”
Dit is dan vanuit God se liefde vir jou, dat jy ander kan liefhê.

Jy kan nie uitdeel wat jy nie het om te gee nie!
God se liefde wat jy ontvang, is die liefde wat jy uitdeel!
In eie krag kan jy nie liefhê nie.
Maar met God se krag,
kan jy liefhê met God se liefde wat jy uitdeel!
So maak jou liefdesoptrede God sigbaar!!

Ernest