Die lewe het baie dikwels met toetse te maak. Op die skoolbanke.
Naskoolse studies. Sport. Werk aansoeke. Keurings. Slaag of druip.
Ook op godsdienstige vlak is allerhande toetse. Volgens die Bybel
lê God egter net een toets aan wat jy moet slaag.
Dit is dat jy in Jesus Christus as Here moet glo! Jy hoef God nie
van die oggend tot die aand te probeer beïndruk nie. Hy vra slegs
jou hart! Dit is al. Maar dit is ook alles! Daarom toets Hy ons ook
van tyd tot tyd om ons geloof te suiwer. Hy stel sy genade, en liefde,
en krag elke dag tot ons beskikking sodat ons daaruit sal leef.
Maar ons moet dit by God kom haal. Ons moet Hom daarin toets...

Die Bybel sê dat ons met God moet praat oor wat op ons harte lê.
Hy wil regtig hê dat ons geloof ‘n avontuur sal wees waar ons groot
dinge van Hom verwag. Ons geloof moet die grens tussen die sienlike
en die onsienlike oorsteek. Ons moet eerlik en op die man af vir God
leef en met Hom in gebed praat. Ons moet nie dat ons probleme en
onsekerhede ons van God vervreem nie! Ons moet juis in twyfel en
seer met Hom praat en by Hom leef. Hy nooi ons uit om Hom met
ons grootste worstelinge te “toets”!

Ons moet God ook “toets” deur ons lewe elke dag in sy hand te plaas.
Ons moet Hom met ons lewe vertrou. Ons hoef nie “groot en vername”
gelowiges te wees nie. Hy wil net hê dat ons as voetsoldate in sy hand
sal leef op die stukkie lewe waarin Hy ons geplaas het. Hy vra navolgers
wat die durf sal hê om stroomop te glo en te leef vir Hom! God nooi jou
uit om elke dag na Hom toe te kom. Jy kan elke dag met elke behoefte
na Hom gaan. Gryp hierdie kans elke dag nuut aan. Moet dit nooit laat
verbygaan nie. Elke dag nuut saam met God!

God het bedoel dat jou lewe saam met Hom ‘n avontuur en
‘n feesgeleentheid moet wees. Daar moet jy elke dag uit sy oorvloed
van lewe gaan lééf! Jy kan Hom hierin toets! In Maleagi 3:10 sê die Here
dat jy moet doen wat Hy vra en dan sê Hy verder “...toets My hierin...”
en weer ‘n keer in dieselfde vers “toets My...”

Ernest