Ons kan nie self bepaal hoe ons die Bybel wil lees nie.
Ons is regtig op God se terrein as ons die Bybel lees.
God bepaal dus ook hoe ons die Bybel moet lees.
Ons moet daarom die Bybel biddend lees, afhanklik
van die Heilige Gees. Ons moet sensitief wees vir die
stem van die Heilige Gees. Psalm 119:104 sê:
“U bevele gee my insig...” As ons die Bybel lees soos
ons wil, hoor ons eintlik net ons eie stem. Ons hoor
wat ons graag wil hoor of wil doen.
Die Bybel het vir baie mense en predikers net ‘n buik-spreek
boek geword. Hulle kry in die Bybel net bevestiging vir wat
hulle wil hoor. Hulle slaan bollemakiesie met tekste en lees
en misbruik dit uit konteks.
Die Bybel dink dan elke slag verstommend baie soos húlle!
God stem elke keer met hulle saam! En dit terwyl die Woord
van God juis dikwels teen ons grein ingaan. God se profete
het die meeste van die tyd juis gesê wat die mense nie wou
hoor nie!
By die profete leer ons dat God waarlik God is, en nie ‘n mens nie.
Hy praat nie sommer net my soort taal nie. Hy antwoord ook nie
my vrae soos ek dit altyd graag sou wou hê nie. Want dit gaan oor
God se wil en nie my wil nie. By die profete leer ek dat God nie in
my diens is nie, maar dat ek God moet aanbid, en nie myself nie.
Ek is op heilige grond as ek God se Woord lees! God is daarin aan
die Woord! Hy is ‘n verterende vuur! Daarom moet ek nie vraag
en antwoord speletjies met God speel nie. God doen nie op aanvraag
wat ek wil hê nie. Die Bybel is ook nie ‘n vraag en antwoord boek nie.
Ons kan nie die Bybel eenvoudig “google” nie. Die Bybel is God se
Woord waarin Hy sy hart aan ons openbaar, en sy wil vir ons lewe,
en hoe ons vir Hóm moet lewe!
Dit... laat my in heilige eerbied voor God buig.
Ernest