Om die Bybel te lees is om doelbewus tyd saam met God
deur te bring. Ons kan nie net ‘n versie hier en ‘n versie daar
lees nie. Ons kan ook nie net die versies lees wat “tot ons spreek” nie.
Dit is nie hoe God bedoel het ons die Bybel moet lees nie. Dit is ook
moontlik hoekom daar dikwels soveel misverstand is oor wat die Bybel
regtig oor God of oor mense sê.

Toe die Bybel aanvanklik geskryf is was daar byvoorbeeld geen vers-indelings
nie. Daar was nie eers hoofstuk indelings nie. Die hoofstuk indelings kom eers
uit die dertiende eeu toe Stephen Langton die hoofstuk indelings gedoen het.
Die vers indeling kom ook eers vanaf ongeveer 1551, gedoen deur Robert
Stephanus. Die Bybel-skrywers het aanvanklik een groot teks geskryf!
Van begin tot einde. Dit is bedoel as geskrifte wat letterlik van voor tot agter
deurgelees moes word. So moes gehoor word wat God in elke afsonderlike
Bybelboek sê!

Dink daaraan soos om tyd saam met geliefde mense deur te bring.
Regtig intens te kuier. Ons het dan baie inligting om uit te ruil. Ons praat eintlik
paragrawe vol, hoofstukke, selfs boeke vol! God ook! God kom praat nie in
enkel-sinne of versies alleen met ons nie. Ons moet nie God se stem en wil
verskraal tot ‘n aantal losstaande versies nie. Dit is dan maklik om sy stem en
wil verkeerd te hoor. Ons moet tyd by God deurbring en sy Woord lees en lees.

Ons moet, met respek gesê, by God kuier en kuier. Ons het baie met mekaar te
kuier! God het tyd nodig om sy wil met ons te deel en ons het tyd nodig om dit
te hoor en te verstaan en te gaan leef! Daarom is God se openbaring 66 boeke dik!
God se openbaring bou voort van sin na sin, hoofstuk na hoofstuk, boek na boek...
Dit is hoe God gehoor wil word. Dit is hoe jy God gaan hoor. Dit help nie ons wys
net vinnig oë by enkele verse nie. Nee. As jy na God se woord toe kom moet jy
“by God kuier”, met eerbied gesê en bedoel. Jy moet paragrawe, hoofstukke en
boeke lank kuier.

Moenie te besig raak in jou lewe hiervoor nie. Dan is jy besiger as wat God jou
wil hê, en dan het jy nie meer tyd vir God nie...

Ernest