Die Bybel is God se woord aan ons. Dit het oor duisende jare
gestalte op skrif gekry. God se openbaring het algaande hoorbaar
en sienbaar, leesbaar en ervaarbaar geword. Dit het deur die tyd
in spesifieke menslike kontekste plaasgevind. Die Bybel het nie in
‘n lugleegte ontstaan nie. Daarom is dit inderdaad God se Woord
in mensetaal!
Dit is ook belangrik om kennis te dra van die verskillende wêreld tye
en plekke, asook die verskillende Bybel-skrywers, wat God se woorde
en dade neergeskryf het. Hulle het dit gedoen aan die hand van die taal
en gebruike van hulle tyd. Wanneer ons dit nie in ag neem nie, “vertaal”
ons God se Woord in mensetaal verkeerd. Dan hoor ons die boodskap
ook verkeerd. Dan begin ons die Bybel doodskree met die eie stemme
van ons tyd.
Wanneer ons deur die Westerse bril van ons tyd na die Bybel kyk,
en onsensitief is vir die selfstandige gebruike, instellings en waardes
van die Bybelse tye, gaan ons nie verantwoordelik met die Bybel om nie.
Ons moet onthou dat mense in die Bybelse tyd, wat oor ‘n hele paar
duisend jaar strek, anders gedink het oor sake soos byvoorbeeld die rol
van man en vrou, of kinders in ‘n huishouding, of slawe.
In ons wêreld word die status van mense byvoorbeeld bepaal deur
besittings, geld en mag. In sekere Bybelse tye is status en waarde bepaal
deur eer! Eer is veral bepaal deur elkeen se voorouers, en deur hulle plek
van afkoms. Mense is met eer gebore, of nie. Dit is juis teen hierdie
agtergrond wat Paulus in Filippense 2:6-8 skryf oor Jesus wat al sy hemelse
eer prysgee en as nederige mens in die gestalte van ‘n slaaf kom leef het.
Dit was skokkend vir die mense van daardie tyd, en vertel juis hoe groot
die offer is wat Jesus kom bring het. Dit is teen hierdie agtergrond wat ons
dan ook tekste moet verstaan soos Markus 10:42-45. Dieselfde geld hier
vir Jesus se woorde dat dié wat Hom wil navolg bereid moet wees om
slawe en diensknegte te word en die minste te wees. Hierin het Jesus
vir ons die voorbeeld kom stel. Jesus het nie gekom om gedien te word
nie, maar om te dien, en sy lewe op ‘n vernederende wyse weg te gee,
ter wille van die behoud van ons lewe!
Ernest