Een van die belangrikste beginsels in die lees van die Bybel
as God se Woord is om eerlik te wees met jouself. As jy regtig
opreg na God se wil soek, moet jy eerlik wees met jouself.
Die belangrike vraag is: Het jy reeds vooraf besluit wat jy eintlik
wil hê die Bybel moet sê, en nou soek jy net tekste wat dit bevestig...
of wil jy regtig hoor wat God sê? Is jy regtig oop vir die Heilige Gees
se oortuiging? Sal jy ‘n lewens-aanpassing doen as die Bybel anders
sê as wat jy wil hoor? Of pas jy die Bybel aan by jou oortuigings en
behoeftes? Dit is hierin wat baie mense die Bybel laat “buikspreek”.
Ons moet veral ook onthou dat die Bybel nie ‘n vraag en antwoord
boek is nie. Die Bybel gee nie antwoorde op letterlik elke vraag wat
jy kan vra nie. Die Bybel praat nie direk oor eietydse vrae soos die
beskadiging van die osoonlaag nie, of die regte gebruik van die
internet nie, of oor genadedood en aborsie nie. Die Bybel gee tydlose
beginsels wat hierin toegepas moet word onder leiding van die Heilige
Gees. Die Bybel skryf byvoorbeeld nie direk oor aborsie of genadedood
nie, maar ons hoor deurgaans in die Woord wat God sê oor die waarde
van lewe en dood, dat lewe reeds voor geboorte begin, en dat hierdie
beginsels vandag nog geld.
Ons moet ook nederig besef dat ons nie alleenreg het op die regte
verstaan van die Bybel nie. Ons is nie die eerste en laaste lesers van die
Woord van God nie. Daarom praat die Bybel steeds so lewend en
kontekstueel in elke tyd. Deur die eeue worstel ons met die Woord
van God en steeds groei ons daarin! Die Heilige Gees openbaar sy
waarhede aan miljoene mense, nie net aan jou nie.
Luister, leer, en leef deur die Gees... opreg eerlik met jouself.
Gaan dit vir jou oor God, of oor jou?...
Ernest