Soms weet ons eenvoudig net nie presies hoe ons vorentoe
moet beweeg nie. wat is God se wil nóú vir ons?
Dan kan ons saam met Paulus in 2 Korintiërs 4:8 getuig dat
ons eenvoudig “oor raad verleë” is. Nie eers Bybel skrywers
soos Paulus het altyd presies geweet nie. Kan jy glo dat Paulus
dit sê? Paulus het swaarkry geken, en vrae en worsteling.
Hy het inderdaad dikwels hard gesoek na Gd se wil.
Daarom moet ons ook nie sommer net maklik sê
dit en dat is God se wil nie...
Een van die goeie voorbeelde van hoe Paulus en ander geestelike
leiers verskil het oor God se wil is in Handelinge 21. Wanneer die
profeet Agabus vir Paulus hier op simboliese wyse kom meedeel
dat hy in Jerusalem gevang gaan word, is Lukas hulle oortuig dat
die Gees vir hulle sê Paulus moet nie soontoe gaan nie. Paulus,
aan die ander kant, is egter oortuig dat hy juis Jerusalem toe
moet gaan! Hy is oortuig dat dit juis die Gees is wat hom lei om
dit te doen, en om te ly en te sterf vir Christus, as dit sou moes
gebeur.
Wanneer die geestelike leiers soos Paulus, Lukas en Timoteus
so verskil, en aan weerskante aanspraak maak “onder leiding
van die Gees”, dan help dit ons om te besef dit is nie altyd so
maklik om te weet presies wat God wil hê nie. Soms weet ons
net nie. Soms ken ons regtig net ten dele. Soms kyk ons regtig
asof deur ‘n dowwe spieël in ‘n raaisel...
Ons moet nederig erken dat ons nie altyd presies weet nie.
Maar een ding weet ons: Die Here los nie ons hand in ons
onsekerheid nie. Hy is steeds by ons. Sy liefde het geen einde
nie. Ook al weet en verstaan ons nie heeltemal nie.
Ernest